|
|||||||||||
|
| VIND: |
Buiteland
Agt van VSA in China aangehou
24/08/2008 08:54:25 PM - (SA)
Beijing. – Die VSA dring aan op die onmiddellike vrylating van agt Amerikaners wat hier aangehou word omdat hulle tydens die Olimpiese Spele betoog het vir die bevryding van Tibet.
Twee Amerikaners is sedert Donderdag in aanhouding nadat hulle ’n banier met die woorde “Bevry Tibet” naby ’n Olimpiese lokaal opgehang het. Volgens die Chinese regering word dié twee Sondag vrygelaat. Ses lede van die groep Bevry Tibettaanse Verslaggewers is van vroeg Woensdagoggend in aanhouding en sal blykbaar Saterdag vrygelaat word, het die Amerikaanse ambassade verklaar.
“Ons is teleurgesteld dat China nie die geleentheid van die Olimpiese Spele gebruik het om groter verdraagsaamheid en deursigtigheid aan die dag te lê nie,” lui ’n verklaring deur die ambassade.
“Ons moedig die Chinese regering aan om respek vir menseregte, met die insluiting van vryheid van spraak en godsdiensvryheid, teenoor alle mense te toon tydens die Olimpiese Spele en elders.”
Volgens dié ambassade is dit die eerste keer tydens die Olimpiese Spele dat só ’n aanhouding langer as ’n dag duur.
“Ons gaan voort om ons kommer uit te spreek teenoor belanghebbendes op senior vlakke van die Chinese regering, en ons hou hierdie sake fyn dop,” is verder verklaar.
Betogings vir Tibet se onafhanklikheid van China was ’n algemene gesig voor en tydens die Olimpiese Spele, in Beijing en elders in die wêreld.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |