|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
| VIND: |
Sen. Barack Obama
Buiteland
Gesoute senator voor in ry as Obama se adjunk
23/08/2008 03:23:54 AM - (SA)
Washington. - Sen. Joe Biden (66), gesoute Demokratiese senator van Delaware, is die gunsteling om vandag as sen. Barack Obama se kandidaat as adjunkpresident aangewys te word.
Obama gaan na verwagting vandag sy adjunk bekend stel met ’n spesiale byeenkoms voor die geskiedkundige ou wetgewergebou in Springfield, Illinois, waar hy sy veldtog vir die Withuis begin het.
Biden, wat op die ouderdom van 29 die eerste keer tot die senaat verkies is, is die oorweldigende gunsteling vanweë sy kennis van buitelandse aangeleenthede en is ’n goeie aanvalsmasjien teen sen. John McCain – maar daar is ook ander name in Obama se hoed.
Die ander name wat genoem word, is sen. Evan Bayh van Indiana, goew. Tim Kaine van Virginia en goew. Kathleen Sebelius van Kansas.
Buiteperde is sen. Hillary Clinton van New York en goew. Bill Richardson van Nieu-Mexiko.
Obama wil met hierdie belangrike aankondiging die Demokratiese nasionale konvensie wat Maandag in Denver, Colorado, begin op ’n hoë noot inlui.
Die adjunk gaan die konvensie Donderdag toespreek voor Obama se aanvaardingstoespraak voor meer as 70 000 mense in ’n sportstadion.
Obama en sy kamp het egter sy kaarte oor wie sy adjunk gaan wees, styf teen die bors gehou.
Al aanduiding van wie dit kan wees, was ’n e-pos-boodskap vandeesweek wat gelui het “promosie-artikels van die Obama-Biden-veldtog” sal gou op sy webtuiste beskikbaar wees.
Biden, voorsitter van die senaat se komitee oor buitelandse betrekkinge, het die week van Georgië af teruggekeer en Obama glo beïndruk deur sy voorstel oor ’n heropbouprogram van $1 miljard (R7,7 miljard) vir die land ná die Russiese aanval twee weke gelede.
|
|||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |