|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Pres. Mugabe Foto: REUTERS
Buiteland
G-8 lande wil ingryp teen Zimbabwe
07/07/2008 10:13:08 AM - (SA)
Leiers van die Groep van Agt (nywerheidslande) gaan maatreëls teen Zimbabwe oorweeg ná die algemeen veroordeelde verkiesing in dié land, het die gasheerland vir die G8-spitsberaad, Japan, gister gesê.
Die Kanadese premier, mnr. Stephen Harper, het die betwiste verkiesing ter sprake gebring waardeur pres. Robert Mugabe ’n sesde termyn as staatshoof gekry het. Dit was in samesprekings met sy Japanse ampsgenoot, mnr. Jasoeo Foekoeda, het ’n Japanse amptenaar gesê.
“Ons is diep bekommerd oor die situasie in Zimbabwe,” het Foekoeda aan Harper gesê.
“As die G8 moet ons maatreëls instel.” Hy het nie besonderhede van sodanige stappe verstrek nie.
Die twee leiers het op die vooraand van die jaarlikse beraad van die G8 – Brittanje, Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, Rusland en die VSA – in die bergoord Tojako vergader.
Die Withuis het vroeër gesê die G8 sal Mugabe in hul finale verklaring “skerp veroordeel”, het mnr. Dennis Wilder, senior direkteur vir Asiese aangeleenthede van die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsraad, onderweg na Japan aan boord van Air Force One gesê.
Die lande sal ook die wettigheid van Mugabe se regering “ten sterkste bevraagteken”.
Die Duitse kanselier, dr. Angela Merkel, het gister in ’n videoverklaring gesê die leiers sal bespreek hoe om die sanksies teen Zimbabwe te verskerp en het die ondersteuning van Afrikalande gevra.
In ’n artikel gister in die dagblad Der Tagesspiegel vra sy dat die G8 ook ’n stel maatreëls teen die skerp voedselprysstygings wêreldwyd aanvaar, berig AP.
Die Japanse menseregte-organisasie Menseregte Nou het op sy beurt die G8-lande gister versoek om hul stem dik te maak teen menseregteskendings oor die wêreld heen.
Die groep het onmiddellike ingryping in die streek Darfoer in die Soedan, asook in Zimbabwe, Tibet en Mianmar (Birma) bepleit.
“Skendings van menseregte sal voortduur so lank as wat die internasionale gemeenskap dit duld,” lui ’n verklaring deur die groep.
Die groep was ook krities oor menseregtevergrype in Irak deur buitelandse veiligheidsmagte en in die sogenaamde oorlog teen terreur op plekke soos die Amerikaanse gevangeniskamp in Guantánamobaai, Kuba. – Sapa-AFP-dpa
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |