|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() ’n Spesiale taakmag van die Maleisiese seevaart-polisie. Foto: AP
Buiteland
Indië vernietig roofskip by Aden
19/11/2008 09:24:18 PM - (SA)
Mogadisjoe. – ’n Indiese oorlogskip het ’n seerowerskip in die Golf van Aden verwoes en gewapende Somaliërs het op nog twee vaartuie beslag gelê, ondanks ’n groot internasionale vlootteenwoordigheid in dié berugte seewaters.
Die seerowers het sedert Saterdag se skouspelagtige kaping van ’n Saoedi-Arabiese olietenkskip met $100 miljoen se olie in sy vragruim ook beheer geneem oor ’n vissersboot uit Thailand, ’n Griekse vragskip en ’n skip wat onder ’n Hongkongse vlag onderweg na Iran was.
Die kaping van die Saoedi-olietenkskip word as die grootste skipkaping in die geskiedenis beskou.
Volgens Saoedi-Arabië is die eieaars in gesprek met die kapers oor ’n moontlike losprys – ondanks voorbehoude oor onderhandelings met kapers. Iran het ook probeer kontak maak met die Hongkongse skip wat hy gehuur het om graan in te voer.
Die skerp toename in seerowery vanjaar het versekeringskoste die hoogte laat inskiet en tot gevolg gehad dat sommige skeepvaartmaatskappye hul roetes deur die Suezkanaal wysig en eerder via Suid-Afrika vaar. Dit het ook ’n sterk militêre reaksie van Navo en die Europese Unie ontketen.
“Die seerowers stuur ’n boodskap na die wêreld uit dat hulle kan doen wat hulle wil, en die ondenkbare en onverwagse kan uitvoer,” het mnr. Andrew Mwangura, koördineerder van die Oos-Afrika-seevaarders-ondersteuningsprogram in Mombasa, gesê.
Die Indiese vloot het gesê een van sy oorlogskepe het ’n seerowerskip in ’n kort geveg verwoes.
“ ’n Brand het aan boord van die vaartuig uitgebreek en ontploffings is gehoor, moontlik weens ammunisie op die vaartuig wat ontplof het,” het die Indiese vloot gesê.
Die Somaliese premier, mnr. Noer Hassan Hoesein, het gesê vlootpatrollies sal nie seerowery keer nie en hy het ’n beroep gedoen dat meer gedoen word om misdaadnetwerke vas te vat.
Terwyl ontleders sê die uitbetaling van lospryse vererger seerowery, het die eienaars van die supertenkskip Sirius Star met die seerowers begin onderhandel.
“Ons hou nie daarvan om te onderhandel met kapers of terroriste nie, maar die eienaars van die tenkskip besluit finaal wat gedoen word,” het Saoedi-Arabië se minister van buitelandse sake, prins Saoed al-Faisal, gister gesê.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |