|
|||||||||||
|
Sen. Barack Obama en sy vrou, Michelle, ná sy toespraak Dinsdag op die Suid-Dakota-en-Montana-saamtrek in St. Paul, Minnesota. Foto: REUTERS
Buiteland
Obama is die wenner
04/06/2008 09:02:58 PM - (SA)
WASHINGTON. – Obama-koors loop hoog in Amerika waar sen. Barack Obama (46) geskiedenis gemaak het deur die eerste swart Amerikaner te word wat ’n groot politieke party se benoeming vir president wen.
Obama het ná 17 maande, 56 verkiesings en meer as 35 miljoen stemme die Demokratiese Partyleiers oortuig hy is die persoon wat die Withuis moet terugwen. Sodoende het hy ’n einde aan die Clinton-era gemaak.
’n Vloedgolf van superafgevaardigdes het hom gesteun nadat sen. Hillary Rodham Clinton vir oulaas Suid-Dakota gewen het. Hy het die mikpunt van 2 118 superafgevaardigdes Dinsdag om 21:00 verbygesteek. Op daardie oomblik is hy ook as die wenner in Montana aangewys, die heel laaste benoemingsverkiesing.
“Dit is ons oomblik. Dit is ons tyd,” het Obama ’n uur later voor ’n jubelende skare van 35 000 in St. Paul, Minnesota, gesê en sodoende die eerste skote in die nuwe oorlog teen sen. John McCain afgevuur.
“Vanaand vier ons die einde van een geskiedkundige reis met die begin van ’n volgende een – ’n reis wat ’n nuwe en beter dag vir Amerika gaan bring. Danksy julle kan ek vanaand voor julle staan en sê dat ek die Demokratiese kandidaat vir president van die Verenigde State van Amerika gaan wees,” het hy dié oomblik met almal gedeel.
The Washington Post het Obama se sukses as ’n reusemylpaal vir die Amerikaanse nasie bestempel – ’n teken van die rassevordering wat oor die loop van sy leeftyd plaasgevind het.
Dit kan egter ook die begin van ’n rassetwis in die party wees weens die teenstand teen ’n swart kandidaat in sommige gebiede, het die koerant gewaarsku.
Die Obama-span het doelbewus die saal vir sy oorwinningstoespraak uitgekies waar McCain in September as die Republikeinse opvolger van pres. George W. Bush bevestig sal word.
Obama het volgens die politieke ontleder van ABC News, Chuck Todd, vir die grootste skok in Amerika se politieke geskiedenis gesorg deur die eertydse gunsteling en voormalige presidentsvrou te klop en só haar droom om weer in die Withuis in te trek vir eers te vernietig.
“Dit is nou jou party,” het die webtuiste Slate die Obama-oomblik uitgespel met ’n hoofberig onder die opskrif “Obama and the death of Clintonism”.
Hiervolgens het hy nie net teen Hillary Clinton te staan gekom nie, maar teen “Clintonisme” – die “Washington-spel om opinie te masseer”.
“From underdog to alpha,” het die Los Angeles Times die opgang van die skraal senator van Illinois opgesom wat met sy boodskap van hoop en verandering die jonger geslag betower het in ’n Amerika wat die slegste ekonomiese toestand in drie eeue beleef.
“Obama-koors het begin,” het The Arizona Republic die gevoel van miljoene Obama-ondersteuners – veral jong mense, swart mense en gegoedes – in Amerika opgesom.
Clinton is dalk geklop, maar sy en haar “weermag van 18 miljoen wit, ouer vroue, werkersklaskiesers en Latyns-Amerikaners” het nog nie oorgegee nie. Sy het nog nie toegegee Obama het gewen nie.
“Wat wil Hillary hê?” het sy self die vraag in haar tuisstad New York gevra oomblikke nadat Obama die wenstreep danksy ’n stroom super-afgevaardigdes oorgesteek het.
“Ek wil hê die 18 miljoen Amerikaners wat vir my gestem het, moet gerespekteer en gehoor word en nie langer onsigbaar wees nie,” het sy self geantwoord.
Dit word beskou as ’n hefboom wat sy inspan om haar kleim in die toekoms in die party af te steek – en sommige kenners glo om die pos van visepresident af te dwing en dit as platform te gebruik om ná Obama of McCain president te word.
“Clinton plays Rocky Balboa to the end,” het The San Francisco Chronicle haar “nie-oorgee-oorgee-toespraak” opgesom met verwysing na die bekende aksiefliek-karakter.
Clinton en Obama sou mekaar gisteraand of vandag agter geslote deure ontmoet om oor haar toekoms te praat in wat as ’n “delikate dans” tussen die twee beskryf is.
Hy sal waarskynlik ook aanbied om te help om geld in te samel om haar verkiesingskuld van sowat $31 miljoen (sowat R240 miljoen) te delg.
Die Obama-span het ook nie op hom laat wag nie en dadelik van haar geldmasjien se mense vir die McCain-oorlog oorgeneem.
Amerika is egter nog uitasem ná die uitmergelende Demokratiese Party-marathon – en hou asem op oor wat veral Clinton se bitter, ouer, vroulike ondersteuners gaan doen. Baie weier om Obama as leier te erken.
Die Demokratiese Party se leiers, goew. Howard Dean, me. Nancy Pelosi (speaker) en sen. Harry Reid, het gister die superafgevaardigdes beveel om voor Vrydag hul keuse oor ’n kandidaat te doen.
Dit sal ’n einde aan Clinton se hoop bring om steeds ’n kaping op die kandidatuur uit te voer.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |