|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Buiteland
Eekhoringvleis vlieg van winkelrakke
11/05/2008 09:28:44 PM - (SA)
LONDEN. – Moenie van jou stoel af val as jy volgende keer in ’n restaurant sit en eekhoring-vleis op die spyskaart sien nie – vra die kelner liewer watter wyn die smaak sal aanvul.
Die grys eekhoring is klaarblyklik besig om ’n lekkerny in Brittanje te word. The Observer het gister selfs ’n resep gepubliseer wat sy lesers wys hoe om eekhoring-pastei te maak.
Die diertjie se vleis is laag in vet en plaaslik bekombaar, wat beteken dit hoef nie ingevoer te word nie. Volgens diegene wat dit al geëet het, is die vleis sappig en proe dit soos ’n kruis tussen eend en lam. Ál klagte is dat die vleis maar dun om die been is.
Volgens die direkteur van ’n winkelsentrum in Cornwall, mnr. Dave Simpson, vlieg die produk van die rakke sedert hulle dit twee maande gelede begin verkoop het. “As ons ’n dosyn per dag op die rakke plaas, word dit alles verkoop.”
Volgens nog ’n wildsvleishandelaar in Northumberland, mnr. Dave Ridley, het hy sedert die begin van die jaar al 1 000 eekhorings verkoop teen £3,50 (sowat R52) elk. “Ek was eers nie seker of mense dit werklik sou eet nie – nou verkwansel ek enige eekhoring waarop ek my hande kan lê. Sommige dae het ek al tot 60 gekry en dan word alles byna onmiddellik uitverkoop.”
Volgens Ridley proe die vleis “soet” en sappig. “Wat verwag jy? Sy dieet bestaan basies uit bessies en neute.” – Anesca Smith
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |