|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Buiteland
Obama kan Hillary se skuld delg ás sy uittree
08/05/2008 08:50:50 PM - (SA)
WASHINGTON. – Sen. Hillary Rodham Clinton het ’n $25 miljoen-besluit om te neem: As sy nou haar veldtog vir die Demokratiese Party-benoeming laat vaar, kan sen. Barack Obama haar skuld betaal.
Politieke ontleders bespiegel egter Clinton sal in die wedloop vir die Withuis bly – ondanks die feit dat dit ’n wonderwerk sal verg om die party se benoeming te wen – net om as Obama se visepresidentskandidaat aangewys te word.
Clinton verkeer ná Obama se groot oorwinning met 14% in Noord-Carolina en haar skrapse sege met 2% in Indiana onder groot druk om tou op te gooi. Haar veldtog is met miljoene in die skuld en die geldkraan droog op, maar sy het Woensdag verklaar sy bly veg totdat daar ’n benoeming is.
Twee superafgevaardigdes wat uit haar kamp na Obama gedros het, is onder die vier nuwe superafgevaardigdes wat hy sedert die Noord-Carolina-sege gewen het.
Obama kort net 177 afgevaardigdes om die wentotaal van 2 025 te bereik. Hy is 155 afgevaardigdes voor (1 848 teenoor 1 693). Om te wen moet Clinton 70% van die orige afgevaardigdes in ses verkiesings na haar kamp oorwen – ’n onmoontlike taak.
Die Clinton-kamp het bekend gemaak sy het drie lenings – van altesaam $6,9 miljoen – sedert die middel van April aan haarself gemaak. Saam met die $5 miljoen wat sy in Februarie aan haarself geleen het en die onbetaalde skuld van tussen $10 miljoen en $15 miljoen, is sy minstens $25 miljoen in die skuld.
Thomas B. Edsall, politieke redakteur van HuffingtonPost.com, berig dit is “byna ’n sekerheid” dat die Obama-veldtog ál haar skuld sal aflos as sy besluit om halt te roep.
Boonop het senior Demokrate aan hom gesê die kans dat sy ’n top-pos in die senaat aangebied sal word, “sal dramaties verbeter as sy nou waardig die aftog blaas”.
Die kersie op die koek sluit in ’n beter politieke klimaat wat haar en oudpres. Bill Clinton die kans sal bied om die kloof tussen hulle en die swart gemeenskap te oorbrug.
“As sy die verhoog waardig verlaat, soos Al Gore in 2000, sal sy haar politieke kapitaal in die party taamlik vinnig kan herbou en mettertyd sal die meeste van haar oënskynlike en regte sondes vergewe en/of vergete wees,” het mnr. Dan Gerstein, ’n Demokratiese konsultant, aan hom gesê.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |