|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Tradisionele Russiese Matrosjka-poppe met die gesigte van Russiese leiers daarop word vandeesweek uitgestal om verkoop te word op die Rooiplein in Moskou. Van links is Dimitri Medwedef, Wladimir Poetin, Boris Jeltsin, Michail Gorbatsjof en Leonid Brezjnjef. Foto: REUTERS
Buiteland
Wie regeer Rusland eintlik?
07/05/2008 08:09:18 PM - (SA)
MOSKOU. – Mnr. Dimitri Medwedef is gister in ’n luisterryke plegtigheid as Rusland se derde president ingehuldig en het onmiddellik die voortgesette insae van sy mentor en voorganger, Wladimir Poetin, verseker deur hom as eerste minister te benoem.
Die magsruiling gister het ’n ongekende verdeling veroorsaak in Rusland se tradisionele bo-na-onder-leierskap wat vrae laat ontstaan oor wie die finale seggenskap gaan hê oor die land se 1,3 triljoen-dollar-ekonomie en kernarsenaal.
In die Andrejefski-saal in die Kremlin het 2 400 BBP’s die inhuldiging van die nuwe president bygewoon.
Hoewel Rusland se 1993-grondwet die meeste mag in die kantoor van die president plaas, word allerweë verwag dat Poetin een van Rusland se magtigste eerste ministers sal word.
Sy party het ’n groot genoeg parlementêre meerderheid om die grondwet te verander.
Sommige waarnemers wys egter op die generasie- en persoonlikheidsverskille tussen die 42-jarige, liberaal-geöriënteerde prokureur Medwedef en sy 55-jarige mentor, Poetin, ’n voormalige KGB-agent, as ’n moontlike beleidsbrandpunt.
Na ’n geweersaluut van 32 skote wat sy inhuldiging afgesluit het, het Medwedef “burgerlike en ekonomiese vryhede” uitgewys as die land se hoofdoelwitte, in ’n skynbare afwyking van Poetin se hardhandige heerskappy.
Hoewel Medwedef ’n bloeiende ekonomie van sy voorganger erf, word Poetin daarvan beskuldig dat hy demokrasie beperk het en Rusland se internasionale verhoudinge geskaad het deur sy beklemtoning van Russiese militêre mag en oorlogsugtige retoriek.
Die Kommuniste, die enigste opposisiegroep in die parlement, het aangedui hulle sal die kandidatuur van Poetin as eerste minister teenstaan.
Medwedef het met sy eerste dekreet – behuising vir veterane van die Tweede Wêreldoorlog – gehou by die maatskaplike kwessies wat sy verkiesingsveldtog gekenmerk het.
Dit is nog onduidelik of hy Poetin se oordonderende houding jeens buitelandse beleid in stand gaan hou.
Medwedef se eerste beplande besoek is aan Kazachstan en China, wat die belangrikheid van hierdie olievennote vir die Russiese regering bo die Weste beklemtoon. – dpa
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |