|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Buiteland
Oostenrykse verkragter sê hy’s geen monster
07/05/2008 08:08:47 PM - (SA)
WENE. – Mnr. Josef Fritzl (73), die Oostenryker wat glo sewe kinders verwek het by sy dogter wat hy 24 jaar lank in ’n vensterlose kelder aangehou het, hou homself as ’n menseredder voor, is gister in die Oostenrykse pers berig.
Fritzl het by monde van sy regsverteenwoordiger, mnr. Rudolf Mayer, in die poniekoerant Österreich uitgevaar teen die “eensydige” mediadekking van die saak.
“Ek is geen monster nie,” het Fritzl glo gesê. Sy hoofargument is dat die 19-jarige Kerstin, die oudste kind wat hy by sy dogter verwek het, haar lewe aan hom te danke het. Kerstin is tans in intensiewe sorg in ’n plaaslike hospitaal in Amstetten.
“Sonder my sou sy dood gewees het. Dit was immers ek wat seker gemaak het sy word na ’n hospitaal gebring.”
Kerstin en twee van haar broers is hul hele lewe lank saam met hul ma ingekerker.
Fritzl se storie dat sy “vermiste” dogter, Elisabeth, die bewustelose meisie voor sy deur gelos en hom gevra het om haar na die hospitaal te bring, het ’n soektog vir die ma aan die gang gesit, wat uiteindelik die grusame misdaad laat ontknoop het.
Hy sou glo gesê het hy kon hulle doodgemaak het en “niemand sou enigiets uitgevind het nie”.
“Ek kon hulle almal doodgemaak het, dan sou niks gebeur het nie en ek sou nie hier gesit het nie. Maar ek het Kerstin na die hospitaal gebring.”
Amptenare het nie die opmerkings bevestig nie. Hulle wou ook nie kommentaar lewer op ander berigte dat Fritzl moontlik ook vir Kerstin mishandel het nie. Hule sê daar was geen kans om die meisie te ondervra nie. Sy bly in ’n geïnduseerde koma.
Fritzl word tans in ’n tronk in die provinsiale hoofstad Sankt-Pölten aangehou. Daar sal Vrydag besluit word of die duur van sy aanhouding verleng sal word.
Elisabeth (42) en haar vyf ander kinders ontvang berading by ’n kliniek naby Amstetten. Die polisie het die sekerheid by die kliniek Amstetten-Mauer verskerp om te verhoed dat paparazzi die terrein betree.
Volgens medici is hul gesondheid onveranderd, en die publiek en media is gevra om hul privaatheid te respekteer.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |