|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Buiteland
Onsekerheid hang oor Israel met 60ste verjaardag
06/05/2008 09:28:38 PM - (SA)
JERUSALEM. – Israel vier vandeesweek sy 60ste verjaardag met ’n militêre skouspel, vleisbraaie en ’n Bybelvasvra – maar ook met ’n wolk van onsekerheid wat oor die politieke toekoms van sy premier hang.
Die hoofverrigtinge begin vandag teen sononder met ’n vlagplegtigheid by die berg Herzl buite Jerusalem. Israeli’s het egter reeds gister die strate met vlae begin tooi en vakansieplanne vir die langnaweek begin maak.
Lugskoue, konserte en strandpartye sal die ses dekades vier sedert die Joodse staat volgens die Hebreeuse maankalender tot stand gekom het.
Vir talle is die langnaweek van drie dae ’n kans om na strande of die platteland weg te breek – en opposisiepolitici het voorgestel dat die premier, mnr. Ehud Olmert, ook van alles moet wegkom.
Verskeie parlementslede het Olmert dringend versoek om te bedank of minstens opsy te staan hangende die uitslag van die nuutste korrupsie-ondersoek teen hom – die vyfde sodanige ondersoek sedert hy aan die bewind gekom het (een is wel ter syde gestel).
Olmert ontken dat hy enigiets verkeerds gedoen het en hou vol hy sal sy verpligtinge as premier voortsit. Hy het egter in ’n seldsame stap alle onderhoude gekanselleer wat tradisioneel voor Israel se herdenking aan plaaslike media toegestaan word.
Die veelgeprese Israelse weermag, wat Arabiese leërs verslaan het om die Joodse staat in 1948 te smee, sal oor die land heen ’n sleutelrol in die vieringe speel.
Terwyl die Joodse staat sy prestasies en militêre seges van die afgelope 60 jaar vier, gedenk die Palestyne ses dekades van wat hulle die Naqba noem.
Dit is Arabies vir “katastrofe”. Dit verwys na die lot van nagenoeg 700 000 Palestyne wat uit hul huise gevlug het toe Israel Arabiese weermagte verslaan het wat die land ingeval het nadat Israel in Mei 1948 uitgeroep is. – Sapa-AFP
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |