|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() ’n Boeddhistiese monnik stap onder deur ’n reuseboom in Jangon wat eergister deur die sikloon ontwortel is. Foto: AP
Buiteland
Sikloon Nargis eis 4 000 in Mianmar
05/05/2008 10:32:38 PM - (SA)
JANGON. – Ongeveer 4 000 mense is in ’n verwoestende sikloon dood en duisende word vermis in die weermag-beheerde staat Mianmar, is Maandag berig.
Dit is ’n dramatiese toename in getalle wat bekend gemaak is sedert die storm Saterdag gewoed het.
Die dodetal is net in twee van die vyf rampgebiede waar VN-amptenare sê honderdduisende mense sonder beskutting en drinkwater is in dié arm land in Suidoos-Asië.
“Die bevestigde getalle is 3 934 dood, 41 beseer en 2 879 vermis binne die streke Jangon en Irrawaddi,” het Myanmar TV drie dae ná die sikloon Nargis gesê. In dié storm het winde van tot 190 km/h in die Irrawaddi-delta gewaai.
Vroeër is die dodetal in amptelike verslae as 351 aangegee, maar die aantal beseerdes het toegeneem nadat die owerheid kontak gemaak het met eilande en nedersettings in die delta wat swaar getref is. Die delta word as die “rysbak” vir die volk van 53 miljoen beskryf.
Die leër, wat 46 jaar hier aan die bewind is, is nog altyd deur die Weste vermy. Hy het nog nie om internasionale hulp gevra nie. Sy leiers, in die afgesonderde administratiewe hoofstad Nai Pji Taw, 400 km noord van Jangon, sê hy sal steeds op 10 Mei ’n referendum hou oor die nuwe weermag-konsepgrondwet, wat kritici glo die leër sal ingrawe.
Die laaste groot storm wat Asië getref het, was toe 3 300 mense in November verlede jaar dood is toe die sikloon Sidr Bangladesj getref het.
In die hoofstad, Jangon, het kos- en brandstofpryse skerp gestyg terwyl hulpverleningsorganisasies gesukkel het om noodvoorraad af te lewer en om die skade te bereken in die vyf rampgebiede, wat die tuiste van 24 miljoen mense is.
“Hoeveel mense geraak is? Ons weet dit is in die ses syfers," het mnr. Richard Horsey van die VN se rampreaksiekantoor ná ’n spoedvergadering gesê. “Ons weet honderdduisende soek skuiling en drinkwater, maar weet nie presies hoeveel nie.”
Volgens die VN se kantoor in Jangon is daar ’n dringende behoefte aan plastiek, watersuiweringstablette, kooktoerusting, muskietnette, gesondheidstoerusting en kos.
Hulle sê die situasie buite Jangon is “kritiek, met beskutting en veilige water die belangrikste onmiddellike behoeftes”.
Thailand het gereageer deur ’n vragvliegtuig met 9 ton kos en medisyne na die gebied te stuur.
In Jangon is dakke afgewaai en skade is groot in die krotbuurte aan die buitewyke van die stad, met sy bevolking van 5 miljoen mense.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |