|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Die jokkie Kent Desormeaux vier die perd, Big Brown, se oorwinning in Louisville, Kentucky. Foto: EPA/MARK ABRAHAM
Buiteland
Clinton wed op verkeerde perd, Obama bietjie gelukkiger
05/05/2008 10:27:49 PM - (SA)
WASHINGTON. – Ondersteuners van sen. Hillary Rodham Clinton hoop nie hul kandidaat se keuse van die verkeerde perd in die Kentucky Derby is ’n slegte teken vir wat in vandag se verkiesing gaan gebeur nie.
Clinton het haar geld op die merrievul Eight Belles gesit om te wen. Die vul het tweede geëindig, en moes kort ná die wenstreep van kant gemaak word toe albei haar voorbene gebreek het.
Clinton kon nie self by die Kentucky Derby wees nie, maar het haar dogter Chelsea gestuur “met streng instruksies om geld op Eight Belles te sit”. Sy het kiesers ook gevra om namens haar “ ’n bietjie geld” op die vul te sit.
Die perd se afrigter, mnr. Larry Jones, het aan ABC News op die vooraand van die tragedie wat miljoene perdeliefhebbers geskok het, ’n boodskap vir Clinton gehad: “Dit lyk of dit ’n goeie jaar vir die meisies gaan wees. Eight Belles sal graag haar steun wil gee (aan Clinton), glo ek.”
Sen. Barack Obama, haar teenstander vir die Demokratiese Party se benoeming vir president, het ’n bietjie meer geluk gehad.
Hy het geld op die uiteindelike wenner, die hings Big Brown, verwed vir ’n plek. Die perd waarop hy geld gesit het om te wen, Colonel John, het sesde geëindig.
Die Kentucky Derby is die grootste perdewedren in Amerika. Twee jaar gelede is die wenner, Barabaro, van kant gemaak nadat hy in die wedren sy agterbeen gebreek het. Die land het gerou.
Clinton kan seker wees van ’n oorwinning in die Kentucky-benoemingsverkiesing op 20 Mei, waar sy tot 65% van die wit, konserwatiewe staat se Demokratiese kiesers kan trek, word voorspel.
Alle oë is egter vandag op die wenpaal in Noord-Carolina en Indiana, waar Clinton en Obama kop aan kop beur vir ’n oorwinning. Dit is een van die belangrikste verkiesings vir albei. Altesame 187 afgevaardigdes is op die spel.
Die meer as 300 superafgevaardigdes wat nog nie hul steun aan een van die twee gegee het nie, sal die uitslae gebruik om teen 3 Junie – die dag van die laaste benoemingsverkiesing – te besluit.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |