|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Palestynse joernaliste woon gister ’n protesbyeenkoms by in Hebron aan die Wesoewer. Die protes is teen die dood van mnr. Fadel Shana, ’n kameraman van die internasionale nuusagentskap Reuters. Shana (23) is noodlottig gewond terwyl hy gebeure in die Gasastrook gedek het. Foto: REUTERS
Buiteland
Hamas ‘sal Israel se bestaansreg erken’
21/04/2008 09:31:24 PM - (SA)
JERUSALEM. – Hamas, die militante Islamitiese groep wat bekend is vir selfmoord-bomaanvalle en vuurpyl-aanvalle op Israel, is bereid om die Joodse staat se reg te erken om as ’n vreedsame buurstaat langs ’n Palestynse staat voort te bestaan, sê die voormalige Amerikaanse president, mnr. Jimmy Carter.
Carter het dié boodskap gister oorgedra in ’n toespraak in Jerusalem nadat hy verlede week met leiers van Hamas in Sirië vergader het.
Die toespraak kom aan die einde van ’n nege dae lange besoek aan die Midde-Ooste wat ten doel het om die dooie punt tussen Israel en die Hamas-militante wat die Gasastrook beheer, op te los.
Israel beskou Hamas as ’n terroristegroep en het Carter bra stief behandel tydens sy besoek omdat hy met Hamas se opperleier, mnr. Kaled Masjaal, en ander Hamas-leiers samesprekings gehou het. In sy toespraak het Carter ’n beroep op Israel gedoen om direk met Hamas te onderhandel. Israel se weiering om dit te doen, knou vredespogings, het Carter gesê.
“Ons dink nie vrede is moontlik en beslis nie volhoubaar nie, tensy ’n manier gevind word om Hamas deel van die gesprekke te maak,” het hy gesê. “Die huidige beleid om Hamas en Sirië uit te sluit, werk eenvoudig nie.”
Sirië bied skuiling aan die uitgeweke leierskap van Hamas in die Siriese hoofstad, Damaskus. Die land ondersteun ook die Libanese Hisbollah-guerrillas wat in 2006 in gevegte met Israel betrokke was.
Carter het gesê Hamas sal nie die pogings van die gematigde Palestynse president, dr. Mahmoed Abbas, ondermyn nie. Abbas wil ’n vredesooreenkoms met Israel bereik op voorwaarde dat Palestyne dit in ’n referendum ondersteun. In só ’n geval sal Hamas nie ’n Palestynse staat aan die Wesoewer en in Gasa teenstaan nie, aldus Carter.
Hamas se leiers het gesê hulle sal ’n Palestynse staat “op die 1967-grense erken” en sal “die reg van Israel as vreedsame buurstaat aanvaar”. – Sapa-AP
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |