|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Buiteland
Bush getakel oor sy 4 000 dooie soldate in Irak
24/03/2008 08:19:53 PM - (SA)
WASHINGTON. – Met 4 000 troepe wat gesterf het in die Irak-oorlog wat sover $600 miljard kos, het Amerikaners die regering van pres. George W. Bush aan dié feit herinner: Osama bin Laden is steeds springlewendig.
Vier soldate is laat Sondag in ’n bomontploffing in Bagdad dood, wat die Amerikaanse sterftesyfer volgens die webtuiste icasualties.org op presies 4 000 te staan gebring het.
Die 5de herdenking van die inval in Irak het verlede week plaasgevind.
Altesaam 1 733 van die soldate wat hul lewens opgeoffer het, is in bomontploffings dood. Die res is in gevegte en ongelukke dood of het selfmoord gepleeg.
Agt burgerlikes wat vir die Pentagon gewerk het, het ook gesterf.
Meer as 29 000 Amerikaanse soldate is in die oorlog gewond, waarvan 45% se beserings só ernstig is dat hulle nooit weer sal kan veg nie.
Soveel as 89 778 Irakese burgerlikes is volgens Iraqbodycount.org sedert die begin van die oorlog dood, terwyl sowat 2 miljoen vlugtelinge die land verlaat het en nóg 2,5 miljoen in hul eie land ontheem is, het die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir vlugtelinge bekend gemaak.
Amerikaners het op die webtuiste Democrats.org Bush herinner aan “hoogtepunte” in die oorlog, deur sy, mnr. Donald Rumsfeld, gewese minister van verdediging, en adj. pres. Dick Cheney se berugte stellings te herhaal, soos: “Mission accomplished” (Bush), “stuff happens” (Rumsfeld) en “bring ’em on” (Bush se woorde op 2 Julie 2003 nadat 65 troepe in die eerste vier maande gesterf het).
Op verskeie webtuistes word die stelling herhaal: “Ná 4 000 sterftes en miljarde dollar is Osama bin Laden steeds springlewendig en gesond.”
Sen. Bob Menendez het in die Demokratiese Party se radioboodskap dié naweek die volk herinner Bush het die land in 2003 “op die vlerke van ’n leuen” in ’n oorlog begewe.
“Pres. Bush moet ons die waarheid vertel: Ná duisende soldate se dood en waarskynlik triljoene dollar van die Amerikaanse belastingbetaler, bly Irak kruppel weens geweld en korrupsie en is dit steeds ligjare verwyder van ’n stabiele regering of ’n langdurige vrede.”
Bush moet ook die waarheid vertel dat – omdat Irak Amerika se hulpbronne uitgeput het en die werk in Afganistan nie afgehandel is nie – “Al-Kaïda besig is om te hergroepeer en is die jag vir ons nommer een vyand – Osama bin Laden – agterweë gelaat”.
Die oorlog het Amerikaners nie veiliger gemaak nie, maar armer.
In plaas daarvan om barakke in Irak te bou, kon die regering miljoene Amerikaners gehelp het wat hul huise verloor het in die verslegtende ekonomie. In plaas daarvan om die strate van Bagdad te patrolleer, kon hy in beter gesondheidsorg en onderwys tuis belê het, lui sy boodskap.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |