|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Streek
‘Polisie sal dán ook skerp ammunisie gebruik’
16/05/2008 10:19:35 AM - (SA)
Die polisie sal met skerp ammunisie (tydens skarebeheer) skiet – as hulle daartoe gedwing word.
Só het me. Susan Shabangu, adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, gister gesê toe sy en ander ministers Alexandra in die noorde van Johannesburg besoek het.
Immigrante in dié township word sedert Sondag gewelddadig aangeval. Dié aanvalle word deur xenofobie aangevuur.
Tydens sommige van dié voorvalle het aanvallers met skerp ammunisie op die polisie geskiet.
“As die polisie tot só ’n punt gedruk word, sal hulle ook skerp ammunisie, en nie net rubberkoeëls nie, gebruik,” het Shabangu gesê.
Volgens haar het die situasie in Alexandra nog nie so ’n punt bereik nie.
Die minister het in April ’n opskudding veroorsaak toe sy gesê het polisielede moet skiet om dood te skiet.
Sedert die geweld in Alexandra uitgebreek het, is 500 ekstra polisie- en metropolisielede in dié township ontplooi.
“Al is die omgewing gespanne, is daar kalmte en het die polisie alles onder beheer,” het Shabangu gesê.
Me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van binnelandse sake, het gesê die aanvalle en geweld in Alexandra sal teen die einde van die week ophou.
“Misdadigers het die aanvalle op immigrante en Suid-Afrikaners oorgeneem. Hulle plunder huise, vermoor en verkrag. Dit móét veroordeel word.”
Vergaderings is gistermiddag by nege gemeenskapsale gehou om mense oor xenofobie in te lig en hulle te oortuig om nie aanvalle en geweld te duld nie.
Die departement van binnelandse sake sal ook geen onwettige immigrante deporteer wat slagoffers van die aanvalle was en by die polisiekantoor skuil nie.
Die Rooi Kruis sê sowat 700 mense het sedert die naweek by die Alexandra- en Bramley-polisiekantoor gaan skuiling soek.
“Meer mense stroom na polisiekantore en hulle het komberse en kos dringend nodig,” het me. Freedom Ngubene, woordvoerder van die Rooi Kruis in Gauteng, gesê.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |