|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Die keermure langs die pad in die Uniondalepoort is deur die vloed in November 2007 vernietig. Foto:FOTO’S: TISHA STEYN
Streek
SUID-KAAP: Pad in Uniondalepoort nog gesluit ná 2007-vloed
15/05/2008 09:50:12 PM - (SA)
UNIONDALE. – Sewe maande nadat die Kammanassierivier in vloed in die Uniondalepoort afgekom het, is dié provinsiale pad steeds gesluit.
“Mense gebruik die pad op eie risiko sedert die November 2007-vloed, maar die pad is amptelik steeds gesluit,” het mnr. Japie Strydom, die Eden-distriksmunisipaliteit se waarnemende departementshoof van tegniese dienste, gister gesê.
Eden tree op as diensleweringsagent vir die Wes-Kaapse departement van vervoer.
Volgens Strydom is die geraamde skade aan die 12 km-pad deur die poort sowat R15,3 miljoen. Skade aan provinsiale paaie in Eden beloop altesaam sowat R245 miljoen.
“Ons kan nie die pad begin herstel voordat ons geld van die nasionale regering af gekry het nie. Ons weet nie hoeveel ons gaan kry of wanneer ons dit gaan kry nie.”
Wanneer die geldsake uitgestryk is, sal die beplanningsproses begin. Dit sal sowat 11 maande duur om die pad te herstel.
Tot dusver is net tydelike herstelwerk gedoen om die pad in ’n mate begaanbaar te maak. Die boere in die Langkloof is afhanklik van dié pad vir die vervoer van hul produkte en die pad word ook deur die nooddienste gebruik.
Toeriste word afgeraai om die pad te gebruik weens die gapende afgronde waar die vloed die walle uitgekalwe het.
Die kronkelpad wat saam met die rivier deur die nou poort loop, is steeds in ’n haglike toestand. Die oppervlak is op baie plekke weggespoel. Die skermmure het meegegee en die relings hang skuins teen die walle.
Hope dryfhout getuig steeds van die krag waarmee die vloed die uitheemse bome, in dié geval meestal wattels, uitgepluk en meegesleur het. Volgens mnr. Hannes Muller, van die Wes-Kaapse departement van landbou, is dit juis uitheemse plante wat die vloei van die rivier versnel en soveel skade aanrig.
“Uitheemse plante is ’n reuseprobleem in die Suid-Kaap. Die uitheemse bome verdring die natuurlike plantegroei wat die grond op die oewers vashou en die vloei van die water vertraag.
“Boonop het die uitheemse plante ’n vlak wortelstelsel en wanneer die rivier afkom, word die bome maklik ontwortel en grond en al meegesleur.”
Die bome kan ook nie goedsmoeds verwyder word nie. “ ’n Boer mag nie die bome met ’n stootskraper uitstoot nie, want dit dolwe die grond om, wat ’n mens juis wil verhoed. Die bome moet afgesaag of met ’n groot snoeiskêr afgeknip word en met gif behandel word wat die boom doodmaak.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |