|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Streek
SUID-KAAP: Beampte huil in getuienis oor padstalmoord
15/05/2008 09:49:08 PM - (SA)
GEORGE. – Verrassende getuienis, ’n samesweringsteorie oor ’n buite-egtelike verhouding en trane.
Dít is wat die rondgaande hooggeregshof hier gister gehoor en gesien het in die verhoor van mnre. Shane Malambo en Fritz Jantjies, wat van die moord op me. Emelia Geldenhuys aangekla word.
Hulle staan ook tereg op klagte van roof, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en die besit van ammunisie vir ’n ongelisensieerde vuurwapen.
Geldenhuys se liggaam is op 4 Julie 2006 in die toilet van ’n padstal op die plaas Gwerna, naby Uniondale, gevind.
Insp. Gloria Mitchell, van die Uniondale-polisie, het getuig sy het op dié dag omstreeks 16:00 verby die padstal gery en die twee beskuldigdes saam met Geldenhuys voor die padstal sien staan.
In haar verklaring het sy egter versuim om dit te noem. Sy het net die bewysstukke vermeld wat sy in ontvangs geneem het.
Onder driftige kruisondervraging van adv. Fareed Stemmet, Malambo se regsverteenwoordiger, het sy gesê sy het aan die ondersoekbeampte genoem dat sy Malambo, Jantjies en Geldenhuys gesien het.
Sy kon nie sê hoekom sy nie ’n aanvullende verklaring afgelê of die saak verder met die ondersoekbeampte bespreek het nie.
Vir Stemmet was dit vreemd dat ’n polisiebeampte met 17 jaar ondervinding nie dié belangrike feite in ’n verklaring noem, ’n aanvullende verklaring aflê of die kwessie met die ondersoekbeampte bespreek nie.
“Ek gaan betoog dat u leuens vertel,” het Stemmet gesê.
Mitchell het kopskuddend geglimlag.
Stemmet het voortgegaan en aangevoer dat die Uniondale-polisie teen Malambo saamsweer omdat sy vrou glo ’n verhouding gehad het met kapt. Damons, wat ten tyde van die moord die hoof van die speurders op Uniondale was.
“Ek dra nie kennis daarvan nie. Ek stel nie belang in ander mense se sake nie,” het Mitchell gesê.
Sy het getuig dat sy, benewens gesprek met die ondersoekbeampte, net een keer oor die voorval gepraat het. Dit was met die kollega wat toe saam met haar in die motor was.
Nadat sy verskeie kere nie Stemmet se indringende vrae oor die inhoud van die gesprek kon beantwoord nie, het sy in trane uitgebars toe adv. Mornay Julius, staatsaanklaer, die kwessie opper.
Ná ’n kort verdaging het sy gesê: “Ek het gevoel as ek stilgehou het, sou dit (die moord) dalk nie plaasgevind het nie.”
Vroeër gisteroggend het mnr. Flip Theron, Jantjies se prokureur, dit aan ’n getuie, mnr. Curtis Wynand, gestel dat hy “sonder om te blik of te bloos” die vuurwapen weggesteek het, omdat hy dit al vantevore gedoen het.
Wynand het die vorige dag getuig hoe hy die vermeende moordwapen op aandrang van sy swaer, mnr. Kosie Kraai, weggesteek het.
“Meneer, ek het rêrig nie voorheen ’n gun weggesteek nie. Rêrig nie. Die Here is my getuie,” het Wynand geantwoord.
Insp. Henry Ben het getuig hoe Malambo in hegtenis geneem is en hoe hy die vuurwapen by Wynand gevind het. Sy weergawe het egter van dié van Wynand verskil.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |