|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Me. Jana Joubert (17) en mnr. Jonain Scheepers (22) van die Emmaüs-werksentrum vir volwasse gestremdes in George kuier saam met twee “lede” van die dorp se honde-eenheid, Skollie (links) en Bruno. Die eenheid het die sentrum gister besoek. Foto: JACKIE KRUGER
Streek
SUID-KAAP: Polisiehonde wys gestremdes hul vaardighede
15/05/2008 09:48:04 PM - (SA)
GEORGE. – Anders as die bekende spreekwoord is dit by dié dorp se honde-eenheid ’n geval van nuwe honde ou (en nuwe) truuks leer.
Dié honde het gister aan werkers van die Emmaüs-werksentrum vir volwasse gestremdes hier gewys hoe hulle onder meer misdadigers aankeer, ’n liggaam opspoor en ’n vuurwapen uitsnuffel.
Die vermeende verkragter van ’n 12-jarige meisie van Pacaltsdorp is juis op 21 April deur een van die hanteerders en sy hond hier opgespoor.
Die honde-eenheid beskik oor patrolliehonde, springstofhonde en dwelmhonde.
Die rol wat hanteerders en hul honde in die stryd teen misdaad speel, word hoog aangeslaan. Die behoefte aan meer polisielede en gespesialiseerde polisiedienste kom ál meer onder die soeklig, veral met die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 om die draai.
Die hegte band tussen hanteerders en honde was duidelik sigbaar.
Van die honde is deur die publiek aan die eenheid geskenk.
“Sjoe, maar hy is vinnig,” het een van die Emmaüs-werkers laat hoor terwyl Oscar die skaaphond laat waai het. Oscar is verlede jaar by die polisie se hondeeenheid-opleidingsentrum buite Pretoria opgelei.
Oscar, wat opgelei is om bloed en semen te ruik, het gewys hoe hy ’n flentertjie lap met ’n kol bloed op suksesvol kan opspoor.
Voordat hul opleiding begin, word die diere gehoorsaamheid geleer. Dit is belangrik om ’n hond te prys wanneer hy iets reg doen.
Met enige oefening wat die honde voltooi, word dié vlugvoetiges later beloon.
Die honde is vreesloos en sal selfs deur vuur spring as dit moet.
Met die honde se blaaskans is selfverdedigingstegnieke aan die gestremdes gedemonstreer.
Kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, is bygestaan deur drie Emmaüs-vrywilligers wat vir die demonstrasie nader gestaan het. “Onthou, julle is almal spesiaal,” het hy aan die Emmaüs-groep gesê.
Ná al die opwinding is almal getrakteer op eet- en drinkgoed met die vergunning van ’n bekende koeldrankmaatskappy en ’n supermarkgroep.
Emmaüs verskaf verblyf en terapeutiese werk aan selfversorgende gestremdes wat nie vir werk in die ope mark nie in aanmerking kom nie. Daar is sowat 85 dagwerkers en 48 permanente werkers.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |