|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Me. Miena Julies, ma van die 15-jarige Jacky Julies wat in 2006 in Pacaltsdorp verkrag en vermoor is, droog hier haar trane af terwyl past. Sam Wagenaar van die Calvary United Pentecostal Church ’n krans van pers blomme aan haar oorhandig in die parkie waar haar kind dood is. Foto: JACKIE KRUGER
Streek
Pacaltsdorp verklaar oorlog teen ‘die duiwel’
11/05/2008 09:32:49 PM - (SA)
GEORGE. – Bykans 400 inwoners het gister op Wêreldbiddag opgeruk om ’n optog teen verkragting en drank- en dwelmmisbruik in Pacaltsdorp te hou.
Dié twee uur lange optog deur verskeie strate is deur die polisie, skole en kerke gereël.
Langs die roete is daar by minstens sewe misdaadtonele aangedoen waar kranse of blomme neergesit is op plekke waar kinders, vroue en senior burgers vermoor is.
By elke kranslegging is daar eers vir die slagoffer se gesin gebid.
Die optog het by die plaaslike AGS-kerk begin waar past. Cliff Spies die slagoffers – én hul aanvallers – aan die Here opgedra het.
“Onthou, die Here het misdadigers ook lief,” het hy gesê.
“Onthou, die Here het misdadigers ook lief,” het hy gesê.
Die optog is bygewoon deur oud en jonk, waaronder leerders van die Primêre Skool Pacaltsdorp wat netjies uitgevat was in hul skoolklere.
Die orkes van die Congregational Kerk in Pacaltsdorp, die Congregational Brigade, het die optog gelei.
Plakkate met bewoording soos “Taking back our community”, “Ons wil veilig wees” en “Los ons kinders uit” is deurentyd geswaai.
Die ma van ’n 12-jarige meisie wat in April deur ’n 16-jarige seun ontvoer en verkrag is, was merkbaar aangedaan en het deurentyd geprewel: “Here, hoekom mý kind?”
Sy is deur lede van die gemeenskap vertroos. “Goddank jou kind leef nog,” het ’n bejaarde optogganger gesê.
Die optog het ook by ’n taverne verby beweeg waar besoekers op die stoep saamgedrom het om die plakkate gade te slaan.
Van die optoggangers het hulle uitgejou en gesê: “Kyk hoe drink die mense op ’n Sondag!”
Me. Miena Julies, ma van die 15-jarige Jacky Julies wat in 2006 verkrag en vermoor is, het begin huil toe past. Sam Wagenaar van die Calvary United Pentecostal Church ’n krans van pers blomme aan haar oorhandig het in die parkie waar haar kind dood is.
Ná die optog is ’n memorandum aan die stasiebevelvoerder van die Pacaltsdorp-polisiekantoor, supt. Pindelwa Marakala, oorhandig. Optoggangers het gesê hulle wil saamwerk met die polisie.
“Ons kan nie langer so aangaan nie. Ons moet saamstaan en die duiwel uit ons gemeenskap verdryf,” het van hulle gesê.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |