|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Lede van die polisie ondersoek die toneel van ’n mislukte transito-rooftog gister op die hoek van Kohler- en Perserverancestraat in Perserverance. Foto: WERNER HILLLS
Streek
OOS-KAAP: Transito-rooftog in Baai misluk
08/05/2008 10:05:41 PM - (SA)
PORT ELIZABETH. – ’n Wilde skietery waarin stilstaande motors in die koeëlreën beskadig is, het gister hier tydens ’n mislukte transito-rooftog uitgebreek.
Twee sekerheidswagte van Fidelity Guards is lig beseer nadat ’n groen Ford Courier-bakkie hul voertuig van die pad gedruk het.
Die voorval het om 09:55 op die hoek van Perserverance- en Kohlerstraat plaasgevind.
Volgens insp. Dumile Gwavu, ’n polisiewoordvoerder, was die Courier-bakkie vergesel van ’n Ford Bantam. Albei voertuie is as gesteel aangemeld.
Sewe gewapende mans wou die sekerheidswagte dwing om die kluise oop te maak. Die kluise sluit egter outomaties en kon nie oopgemaak word nie, het Gwavu gesê.
Die verdagtes het daarna, in ’n poging om die kluise oop te kry, op die voertuig geskiet, maar hul pogings was vergeefs. Verskeie skote is ook in die lug afgevuur.
Twee ander voertuie is in die skietery getref, maar niemand is beseer nie.
Volgens Gwavu is die sekerheidswagte van hul pistole beroof.
Die verdagtes het ná die voorval in die Bantam ontsnap.
Dié bakkie is later verlate in Veeplaas opgespoor.
Die polisie ondersoek ’n saak van gewapende roof.
In ’n onverwante skietvoorval het vermeende bendegeweld ook gister weer in die Helenvale-woonbuurt hier na vore gekom toe ’n man helderoordag deur vier aanvallers geskiet is.
Mnr. Melvin Bruintjies en twee van sy vriende het op die hoek van Fitchard- en Ettlestraat gestaan toe vier mans op hulle begin skiet het.
Die voorval het om 13:05 plaasgevind.
Slegs Bruintjies is in die voorval gewond. ’n Koeël het hom in die linkerbeen getref. Hy is na die Livingstone-hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Die aanvallers het kort ná die voorval die hasepad gekies.
Volgens kapt. Johan Rheeder, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie vyf patroondoppies op die toneel gevind.
’n Inwoner wat anoniem wou bly, het gesê die aanval is as gevolg van die voortslepende spanning tussen twee bendes, die G-Unit en die Boomshaka’s.
Hy het gesê die mans is almal bekend aan die gemeenskapslede, maar dat die inwoners nie inligting wil verskaf nie weens die gevaar wat dit vir hul lewe kan inhou.
Die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad ondersoek die saak.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |