|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Mnr. William en mev. Susie Kitching sukkel om maandeliks met hul pensioen uit te kom weens die stygende kospryse. Hul hondjie, Ounooi, sorg darem vir vrolikheid in hul lewens. Foto: EWALD STANDER
Streek
OOS-KAAP: ‘Ons kook nou net elke tweede dag’
08/05/2008 10:05:09 PM - (SA)
PORT ELIZABETH. – “Ons probeer maar positief bly. Dit help nie jy raak negatief nie, want dít maak ’n mens net siek.”
Mev. Susie Kitching (68) van die Buffelsfontein-aftreeoord in die Baai probeer hard om haar nie te laat onderkry deur stygende kospryse nie.
Al sukkel sy en haar man, William (75), soms om te oorleef met hul karige pensioene, vat hulle dit “dag vir dag”.
“Ons spaar waar ons kan, maar op die oomblik is daar nie meer veel plek om te spaar nie,” het mnr. Kitching gesê.
Sedert kospryse die hoogte ingeskiet het, het hul kosmandjie drasties gekrimp. “Ons koop nou net die nodigste en werk spaarsamig daarmee. Ons kook net elke tweede dag. As ons die een dag gekookte kos eet, eet ons die volgende dag net ’n broodjie,” het mev. Kitching gesê.
Sy en haar buurvrou deel ook gereeld resepte vir lekker, maar bekostigbare etes.
Die een luukse waarvoor hulle hul rande ’n paar keer sal omdraai, is beslis vleis. “William is baie lief vir ’n vleisie, so ons probeer maar om veral oor naweek ’n tjoppie of iets te eet. Ek is weer ’n groentemens. Ons koop elke maand vars groente wat ek dan bewerk en vries. Dít werk baie goedkoop uit,” het sy gesê.
“Ons jongste seun, Pieter, is darem ook baie goed vir ons. Hy bring gereeld ’n vleisie of ’n stukkie vis vir ons,” het mev. Kitching gesê.
Weens die hoë petrolprys is die Kitchings een van hul gunsteling-tydverdrywe ook kwyt: om op Sondagmiddae langs die see te gaan ry.
“Ons ry nou net vir noodsaaklikhede soos kos koop en doktersafsprake. Verder sit ons maar hier by die huis,” het mnr. Kitching gesê.
En as hul huisie vir hulle te klein raak, trek hul lieflinghondjie, Ounooi, hul aandag van hul sorge af.
“Sy is só vrolik en laat ons sommer van alles vergeet,” vertel mev. Kitching terwyl sy ’n balletjie vir Ounooi gooi.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |