|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Me. Julia Tanase wys die bietjie rys wat hulle oor het vir die maand. Die kos in haar kruidenierskas agter haar moet ook vir die res van die maand hou. Foto: WERNER HILLS
Streek
OOS-KAAP: Pryse styg, maar agt eet steeds op een se loon
07/05/2008 10:06:22 PM - (SA)
UITENHAGE. – “Dis nie net ’n bietjie erg nie: Ons kry swaar, swaar, swaar . . . maar ons lewe darem nog.”
Kospryse veroorsaak groot kopsere vir talle Suid-Afrikaners, maar vir me. Julia Tanase (47), ’n huiswerker hier, veroorsaak dit slapelose nagte en “erge hoogbloed wat net nie wil regkom nie”.
Op haar minimum loon onderhou sy haar vier kinders – Fazeka (29), Sylvia (22), Juliatjie (16) en Wendy (10) – haar kleinkind, Pop (3), haar ma, me. Ivy Mageja (67) en haar broer, mnr. Eric Mageja (32).
Almal bly saam in haar drievertrek-huisie in KwaNobuhle.
Haar kosmandjie was nog altyd klein: suiker, mieliemeel, broodmeel, samp (stampmielies), olie, tee, koffie en ’n klein bietjie vleis.
Nou, met die kospryse wat die hoogte inskiet, het dit verder gekrimp.
“Ons koop nooit brood nie, want dit is baie duur. Ek bak my eie brood in die aande.
“Ek het altyd ’n 10 kg-sak broodmeel vir so R40 gekoop. Nou kos dit R70. Ek kan dit nie betaal nie en koop nou ’n 5 kg sak.
“Maar dit is nie genoeg vir ons vir die maand nie.”
Sy moes hul mieliemeel- en olie-aankope ook met die helfte sny.
In die verlede het polonie vir haar kinders se skooltoebroodjies R20 gekos. Nou kos dit R27 en “dit is te duur vir my”.
Tanase kan ook nie juis vleis koop nie.
Net so nou en dan koop sy ’n skaapkop, hoendernekkies of derms vir ’n Sondag. En selfs dán kry elkeen net ’n baie klein stukkie.
By die huis waar sy in Vanes Estate werk, kry sy elke dag ’n bord kos.
Dié kos vat sy na haar huis toe en deel dit onder die hele gesin.
“Solank my kinders kos kry, is ek tevrede.
“Ek worry nie eintlik oor myself nie.”
Buiten die kos, moet sy ook nog seep en wasmiddels koop en haar munisipale rekenings betaal.
Een buisie tandepasta moet elke maand tussen die agt inwoners van haar huisie gedeel word.
“Ons kry elkeen net so ’n klein bietjie,” sê sy terwyl sy met haar vingers wys.
Hulle kan dit egter ook nie bekostig om na ’n dokter of tandarts te gaan nie.
“As ons siek is, moet ons by die kliniek in ’n ry gaan staan vir die suster.
“As ons baie siek is, kry ons dalk ’n Panado daar.”
Tog het sy nog haar trots. Haar huisie is silwerskoon en sy betaal selfs skoolgeld vir Juliatjie en Wendy.
“Ek kry mos meer geld in Desember.
“Ek gebruik dit vir die skool.
“Dan steek ek ook nog geld weg vir hul boeke.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |