|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Foto:
Streek
VIDEO: ‘Bonnie en Clyde’ vry na nog ’n rooftog
PORT ELIZABETH. – “Ek het my boeglam geskrik toe ek die geweer sien.”
Só het mnr. Luyanda Mbanyana, wat by die Caltex-vulstasie op die hoek van Circular-rylaan en Centenarystraat in Lorraine werk, gister vertel oor sy noue ontkoming met die Baai se eie “Bonnie en Clyde”.
Net soos die paartjie Bonnie Parker en Clyde Barrow in die vroeë 1930’s verskeie klein sakeondernemings en vulstasies in Amerika beroof het, slaan die Baaise “Bonnie en Clyde” ook op vulstasies toe.
In die afgelope twee weke is vier vulstasies beroof, met gerugte wat die ronde doen oor ’n rooftog by ’n vyfde vulstasie in Westering wat nooit by die polisie aangemeld is nie.
Gister het werkers by die petrolstasies hul weergawe van die rooftogte aan Die Burger vertel.
Mnr. Rico Alkaster, ’n werknemer van die Shell-vulstasie in Kraggakammaweg in Kabegapark, het vertel hoe die twee vinnig weggejaag het in hul wit, nommerplaatlose VW Golf nadat ‘Bonnie’ “bitter kort” in die winkel was.
“Hulle het amper in die muur vasgejaag. Ek wys toe vir hulle dis als orraait en lekker aand,” het Alkaster met sy twee duime in die lug beduie.
Net daarna kom die kassier by die winkel uitgehardloop en skree dat hulle pas beroof is, vertel hy. “Ek sê toe vir haar: ‘Nei, man, ’n wit antie rob mos nie.’”
By die Caltex-vulstasie op die hoek van Circular-rylaan en Centenarystraat in Lorraine het die kassier glo gesit en slaap toe hy wakker geskrik het met ’n pistool in sy sy gedruk.
Tóé staan “Bonnie” agter die toonbank langs hom, vertel Mbanyana, dié kassier se kollega. Hy het die hele gebeurtenis van buite dopgehou.
“Ek het my boeglam geskrik toe ek die geweer sien.”
Die hele rooftog duur egter minder as 45 sekondes. Op die video van die sekerheidskameras van die Mount Pleasant Engen-vulstasie, wat ook verlede Sondagoggend beroof is, kan duidelik gesien word hoe die Golf reg voor die ingang stilhou.
“Bonnie” klim uit met haar nou berugte wit baadjie aan, ’n pet op haar kop en die kappie van die baadjie bo-oor die pet. Dit lyk of sy presies weet waar die kameras is, want telkemale lig sy haar hand voor haar gesig waar die kamera dalk haar identiteit kan verklap.
Sy loop rustig om tot aan die agterkant van die toonbank, pluk haar 9mm-pistool uit en beveel die kassier, mnr. Simphiwe Mzambo, om die kasregister oop te maak.
Daarna druk sy haar hand in, gryp ’n handvol banknote en begin dan uitloop. Op pad uit kry sy eers vir haar ’n paar pakkies Dunhill-sigarette voordat sy in die motor klim en “Clyde” vinnig wegjaag.
Die petroljoggies is dit eens dat “Bonnie” al in die dertig is, met “Clyde” wat veel jonger is.
“Hy is seker of haar toy-boy of haar seun,” spot Alkaster.
Intussen sukkel die polisie glo om die nou berugte rowers vas te vat. “Die beelde op die sekerheidskameras is te swak om hul gesigte te wys; so, ons het nie eintlik ’n identikit van hulle nie,” aldus kapt. Wynand Helfrïcht, ondersoekbeampte.
Die polisie ondersoek alle moontlike leidrade en versoek enigiemand met inligting om Helfrïcht by 082 442 1227 te kontak. Konst. Thabiso Nantshinga kan ook by 079 476 4579 gebel word.
riette.olivier@dieburger.com
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |