|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Streek
SUID-KAAP: Onthullings skud DA in George
26/03/2008 09:51:56 PM - (SA)
GEORGE. – Die DA van George het verlede jaar R30 000 aan twee van sy stadsraadslede betaal wat bereid was om “vrywillig weggesteek” te word ondanks die politieke oorlooptyd.
Dié opsienbare politieke inligting het gister aan die lig gekom terwyl die woelinge in die George-stadsraad voortgeduur het.
Die onthullings volg ook kort ná die herinstelling van die Erasmus-kommissie om onder meer bewerings van korrupsie en omkopery in die George-stadsraad te ondersoek.
Die DA is gisteroggend verder geskud toe een van sy wyksraadslede, mnr. Henry J. Jones, onverwags bedank het.
Dit beteken dat ’n derde tussenverkiesing op die dorp gehou moet word.
Jones se bedanking kan die verkiesing van George se nuwe burgemeester aanstaande Maandag beïnvloed.
DA-lede was egter vol vertroue dat hulle die nodige steun van opposisie-partye, soos die OD, die ACDP en die VF+, sal kry om die knoop deur te haak.
Ingeligtes het egter beweer dat nog bedankings gaan volg.
Die DA het nou 15 raadslede, maar net 14 kan stem omdat een tydelik geskors is. Die OD het twee, en die ACDP en die VF+ het een elk.
Na verneem word, het die DA se kieskollege in George Maandagaand ’n burgemeesterskandidaat aangewys.
Die naam van die kandidaat is aan die party se federale uitvoerende komitee voorgelê vir goedkeuring.
Die inligting oor die DA se betalings het bekend geword nadat Jones gisteroggend ’n beëdigde verklaring by die polisie in George afgelê het.
In die verklaring sê Jones dat hy en nog ander gedurende September 2007 ten tyde van die oorlooptydperk “in die bosse weggesteek” was.
“Kort hierna het ek R15 000 van mnr. (Eugene) von Brandis (die speaker van die raad) ontvang.
“Hy het my meegedeel dat dit vir die wegsteek in die bosse was.
“Ek het in geen stadium vir enige geld gevra nie.”
’n Voormalige raadslid, me. Maria Ruiters, het reeds op 12 Maart verklaar dat sy R15 000 van die DA ontvang het. Von Brandis het dit glo aan haar oorhandig vir die ongerief wat hulle families moes verduur “vir die tyd wat ons in die bosse versteek was”.
Von Brandis wou by navraag nie kommentaar lewer nie.
Hy het navrae na mnr. Marius Swart, die DA se kiesafdelingshoof vir George, verwys.
Swart het gesê dit was nie “omkoopgeld” nie.
“Ons sou nie so dom gewees het om hulle te probeer omkoop nie.”
Hy het bevestig dat die genoemde lede wel elkeen R15 000 ontvang het.
“Ons het vrywilligers gevra om weggesteek te word. Die ANC het hulle verpes.
“Ná die oorlooptydperk het ons die geld vir hulle gegee omdat hulle bereid was om bos toe te gaan.”
*Me. Mercia Draghoender, ’n DA-raadslid wat tydelik geskors is, het ook gister ’n beëdigde verklaring by die polisie afgelê. In die verklaring sê sy Von Brandis het haar op 5 Februarie na sy kantoor ontbied.
Hy sou haar R1 000 aangebied het as sy bereid sou wees om ’n klag wat sy teen hom by die polisie ingedien het, terug te trek. Von Brandis het haar na bewering vroeër beledig.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |