|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Klein Mikayla Kruger van Plettenbergbaai vroeër in die hospitaal nadat sy ’n virus opgedoen het wat haar asemhaling belemmer. Foto:VERSKAF
Streek
SUID-KAAP: Sonder geld sal babameisie sterf
26/03/2008 09:18:40 PM - (SA)
PLETTENBERGBAAI. – Die ouers van ’n vroeggebore babadogtertjie wie se lewe tot onlangs as gevolg van ’n virus aan ’n draadjie gehang het, het nou hoop op ’n gelukkige einde.
Klein Mikayla Kruger is op 25 Januarie vanjaar op 36 weke in die George-hospitaal gebore nadat haar ma, me. Janine Kruger, twee dae in kraam was. Haar pa is mnr. Johan Kruger.
Tydens geboorte het Mikayla amniotiese vloeistof ingekry en ook ’n ernstige longinfeksie ontwikkel.
Ná ses dae is sy huis toe gestuur, maar skaars drie weke later het haar ouers besef daar is groot fout toe sy verskeie kere opgehou asemhaal het.
“Dit was ’n baie moeilike tyd. Volgens die dokters het Mikayla ’n virus opgedoen wat haar asemhaling erg belemmer. In sommige gevalle kan dié virus dodelik wees vir babas wat nog nie een jaar oud is nie,” het Kruger gister gesê.
Mikayla is in Februarie na die George-MediClinic gehaas. Sy kon nie op haar eie asemhaal nie en moes in die hoësorg-eenheid aan ’n asemhalingstoestel gekoppel word.
Mukus moes elke drie uur uit haar longe gedreineer word en sy het ook breinskanderings en bloedtoetse ondergaan voordat sy later na die hoësorg-eenheid oorgeplaas is. Sy is vroeër vandeesmaand ontslaan, maar moet steeds twee keer ’n week fisioterapie ontvang om haar longe skoon te kry, sê haar ma.
“Dit beteken ons moet haar fyn dophou en weghou van ander mense wat siek is,” het Kruger gesê.
’n Fonds is intussen gestig vir Mikayla se mediese uitgawes, wat al R71 000 beloop. Die gesin beskik nie oor ’n mediese fonds nie. Volgens haar ma reageer sy tot dusver goed op die behandeling. “Noudat ons weer by die huis is, kan dit net beter gaan. Die dokters is baie ingenome met haar vordering, maar die mediese rekeninge hang soos ’n swaard oor my kop.
“Die behandeling is lewensnoodsaaklik. Daarsonder sal sy doodgaan. Ons is baie dankbaar dat sy nou ’n kans op ’n gesonde lewe het,” het Kruger gesê.
Die egpaar het ook ’n tweeling, Michael en Michelle wat vier en ’n half jaar oud is.
Mense wat wil bydra tot die fonds kan inbetalings doen by Absa Plet, rekeningnommer 918 787 9917, rekeningnaam J Kruger vir Mikayla. Die takkode is 529 414.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |