|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Streek
OOS-KAAP: Splash-fees se toekoms is nou in die gedrang
24/03/2008 09:46:04 PM - (SA)
PORT ELIZABETH. – Die organiseerders van die Vodacom Splash-fees gaan van vooraf daaroor dink hoe hulle dié fees kan red.
Daar was selfs vrese dat Vodacom, hoofborg van die fees, sy ondersteuning sou onttrek ná vanjaar se teleurstellende opkoms. Maar me. Carol Hall, uitvoerende bestuurder van Vodacom Oos-Kaap, het dié vrese gister besweer.
“Vodacom sal nog in die toekoms met die fees verbind wees.”
Intussen is die eerste “herbeplanningsvergadering” al vir volgende week belê. Me. Connie Buso, woordvoerder van Nelson Mandelabaai Toerisme (NMBT), het gesê sekere knelpunte moet uitgepluis word.
“Ons gaan met alle rolspelers vergader en ook teruggaan na die aanvanklike beplanning om oor die fees te besin.”
Die getal besoekers het vanjaar skerp gedaal. Dit blyk of die verdeling van die fees tussen die strandfront en die Port Elizabethse hawe die groot sondaar was.
Verlede jaar het tot 300 000 mense die fees besoek, maar teen 13:00 gister het die besoekers op net 205 000 gestaan. Ten spyte van die daling in die getal besoekers ontken Buso egter dat die fees ’n mislukking was. Sy meen dit was geslaagd.
Vir haar het die wye verskeidenheid op die program tot die sukses bygedra. “Ons het sportaktiwiteite en baie vermaak aangebied. Daar was rock, jazz, gospel en Afrikaanse musiek en al ons konserte is goed bygewoon.”
Volgens haar is die vorige jare se besoekersgetalle op skattings gegrond. “Hierdie jaar se getalle is meer akkuraat omdat die hawe se streng toegangreëls die organiseerders die geleentheid gegee het vir koppetellery.”
Buso het toegegee dat die fees se verskuiwing vanaf die gebruiklike terrein by Hobiestrand na die hawe beslis ’n rol gespeel het.
Daar moes inderhaas ’n ander terrein vir die fees verkry word omdat daar op die oomblik verbouings by die seiljagklub by Hobiestrand is. Daar is toe op die Port Elizabethse hawe besluit.
Volgens Buso was die pendeldiens wat hulle vir feesgangers vanaf die parkeerterrein na die hawegebied gereël het, nie so suksesvol soos verwag is nie. Sy het gesê feesgangers moes steeds ’n ent na die feesbedrywighede loop.
In die verlede het die meeste feesaktiwiteite by die strandfront plaasgevind. Buso het benadruk dat die verskuiwing ’n tydelike reëling was weens die konstruksiewerk.
Die fees word al 17 jaar in die Paasnaweek by die strandfront gehou. Sowat R3,1 miljoen is vanjaar vir die fees begroot. ’n Deel is deur die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit bewillig, terwyl die NMBT ook ander borgskappe bekom het.
Vodacom, wat een van die grootste borge is en die naamreg bekom het, wou egter nie gister verklap hoeveel hy tot die fees bygedra het nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |