|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Streek
OOS-KAAP: TB dalk ‘apokalips’
24/03/2008 09:21:08 PM - (SA)
PORT ELIZABETH. – Te midde van nog ontsnappings van pasiënte wat uiters weerstandige tuberkulose (XDR-TB) en weerstandige tuberkulose (MDR-TB) onder lede het, begin kenners wêreldwyd hul kommer uitspreek oor wat een ’n moontlike “apokaliptiese scenario” noem.
Dit volg ná die jongste ontsnapping van 33 pasiënte met XDR-TB en MDR-TB uit die José Pearson-hospitaal in Port-Elizabeth die naweek.
“Ons verwag dat hulle môre uit vrye wil sal terugkeer,” het mnr. Siyanga Manana, Oos-Kaapse direkteur van kommunikasie oor gesondheid, gesê.
Teen gistermiddag het 12 van dié pasiënte nog nie na die hospitaal teruggekeer nie.
Mnr. Paul Nunn, koördineerder van die Wêreld-gesondheidsorganisasie se TB-departement, waarsku XDR-TB kan op ’n “apokaliptiese scenario” uitloop as die nodige voorsorgmaatreëls nie getref word om die verspreiding daarvan te keer nie, berig Reuters.
Hy het gewaarsku dat dit in ’n epidemie – waarvoor daar geen medisyne is nie – kan ontaard. “Die realiteit is dat dit van vyf tot tien jaar kan duur om nuwe medisyne te ontwikkel,” het Nunn gesê.
Altesame 21 pasiënte was teen laat gistermiddag wel terug by die hospitaal, het mnr. Sizwe Kupelo, woordvoerder van die departement van gesondheid, aan Sapa gesê
“Ons glo hulle bly by hul families rondom Port Elizabeth,” het hy gesê. “Ons soek steeds na hulle.”
Intussen het me. Patricia de Lille, leier van die OD, kaalvuis onder die Oos-Kaapse gesondheidsowerhede ingeklim, veral omdat 49 TB-pasiënte in Desember verlede jaar ook uit dié hospitaal “ontsnap” het.
“Die swak toesig wat oor die pasiënte gehou is, dui daarop dat hulle nie die erns van die situasie besef nie. Dit is ’n geval van lewe en dood. Iemand sal vir dié voorval verantwoordelik gehou moet word – en dis me. Nomsa Jajula (LUR vir gesondheid), en die hospitaal self,” het sy uitgevaar.
Dr. Mamisa Chabula-Nxiweni, direkteur-generaal van gesondheid en omgewingsake van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, meen mense raak te gou op hol oor wetenskaplikes se uitsprake dat daar geen kuur vir XDR-TB is nie.
“Sensitiwiteitstoetse op pasiënte kan egter in sommige gevalle van XDR-TB sekere medisyne uitwys waarvoor die bakterium nog nie ’n weerstand opgebou het nie. Dié spesifieke medikasie kan dan oor ’n tydperk van 18 maande gebruik word om XDR-TB te genees,” het sy gesê.
Volgens dr. Dina de Bruyn, ’n medikus in die Wes-Kaap, is een van die probleme dat pasiënte met die siekte dikwels vinnig herstel nadat hulle medisyne ontvang het. “Die probleem is dat baie van die pasiënte nie hulle behandeling voltooi nie,” sê De Bruyn.
Dr. Krish Vallabhjee, van die departement van gesondheid, sê die probleem is dat die hospitale sowel as die pasiënte die verantwoordelikheid het om toe te sien dat behandeling ontvang word. “Wetgewing maak voorsiening daarvoor dat ons die publiek teen hoërisiko-siektes moet beskerm, maar die grys area lê eerder daarin dat ons nie pasiënte kan verplig om die medisyne te gebruik nie.”
Mnr. Pierre Uys, Wes-Kaapse minister van gesondheid, het gister gesê hulle probeer die pasiënte motiveer en aanmoedig om hul behandeling te voltooi.
“Die vier pasiënte met die super-TB-kiem wat ons vroeër ontslaan het, is ’n bewys dat daar positiewe resultate kan wees as hulle by die medikasie hou, en sal beslis die provinsiale departement van gesondheid se saak wat in Junie maand moet voorkom, versterk.”
Dié hofsaak is aanhangig gemaak deur vier pasiënte wat uit kwarantynaanhouding ontsnap het. Hulle staan die tydelike hofbevel ingevolge waarvan hulle terug hospitaal toe gedwing is, teen.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |