|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
![]() Supt. Erika Heunis
Streek
OOS-KAAP: Verdagte het glo vir polisielid gewerk
25/01/2008 10:27:03 PM - (SA)
GRAAFF-REINET. – Die man wat van die moord op supt. Erika Heunis aangekla word, was voorheen ’n tuinwerker vir ’n polisiebeampte hier.
Mnr. Jeffrey Lottering (26) het gister in die landdroshof hier verskyn op aanklagte van roof, verkragting en moord.
Daar word beweer hy het Heunis Dinsdag met ’n klip teen die kop gekap en ’n mes in haar nek gesteek voordat hy haar nek gebreek het.
Heunis, ’n instrukteur by die polisie-akademie hier, het gedraf toe die voorval gebeur het. Haar drafskoene, horlosie, bril en trouringe is in die voorval gesteel. Volgens kapt. Charlotte Marais, akademiewoordvoerder, is van dié artikels by Lottering se huis gevind. Hy het ook Donderdag talle uitwysings op die moordtoneel gedoen.
In sy verklaring het Lottering glo gesê die mes waarmee hy haar in die nek gesteek het, het hy in water gegooi.
“Ons is nog nie seker of dit in ’n bergstroom of die Van Rhyneveldspasdam is nie,” het Marais gesê.
Lottering sou gistermiddag laat weer na die toneel geneem word om die plek uit te wys waar hy die mes weggegooi het.
Tot gister was Lottering in aanhouding by die Graaff-Reinet-polisiekantoor. Sy saak is tot Maandag uitgestel sodat hy om regshulp kan aansoek doen.
Hy is intussen na die departement van korrektiewe dienste op die dorp gestuur waar hy tans in aanhouding is. Marais kon nie verklaar hoekom hy daar aangehou word nie.
Terwyl Lottering egter nog in die polisieselle was, het ’n polisie-inspekteur ontdek dat die verdagte voorheen sy tuinwerker was, het ’n anonieme polisiebron gesê. “Die inspekteur het laas nag (Donderdagnag) by die selle verby geloop toe hy vir Lottering daar sien sit het. Die inspekteur was só verbaas om hom daar te sien, aangesien hy blykbaar ’n betroubare werker was.”
Lottering het opgehou om by die beampte te werk toe hy ’n paar maande gelede na ’n inlywingskool is om besny te word. Hy was werkloos tydens die voorval.
’n Roudiens vir Heunis is gister by die akademie gehou. Polisie-vriende het ook ’n kruis geplant op die plek waar sy vermoor is.
Heunis word vandag om 10:00 vanuit die AGS-kerk op die dorp begrawe. Sy word oorleef deur haar man, supt. Garth Heunis, en twee kinders, Chanzelle (13) en Monique (11).
riette.olivier@dieburger.com
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |