|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
Streek
OOS-KAAP: Polisie-hoë grusaam met klippe vermoor
23/01/2008 08:27:34 AM - (SA)
GRAAFF-REINET. – Inwoners van dié historiese dorp is verbyster deur die wrede moord op ’n polisie-instrukteur.
Sr.supt. Erika Heunis (36) is vermoedelik verkrag, waarna sy met klippe doodgeslaan is. Daar word gepraat van drie aanvallers, maar die polisie het teen druktyd nog geweier om enige inligting bekend te maak.
Volgens ’n bron by die polisie-akademie waar Heunis gewerk het, was sy saam met polisiestudente op hul gebruiklike oggenddraf in Mountainrylaan, ’n bekende wandelpad buite die dorp, toe die aanval sowat 3 km van die afdraai van die pad gebeur het. Sy is vermoedelik daar deur haar aanvallers ingewag.
Heunis het soos gewoonlik verder gedraf toe die studente ná sowat 2 km omgedraai het.
“Toe sy ná ’n ruk nie na die akademie teruggekeer het nie, het twee polisiebeamptes ondersoek ingestel,” het die bron, wat verkies om anoniem te bly, gesê.
Daar word verneem dat dié beamptes haar halfnaakte lyk onder ’n bos langs die grondpad gevind het. Forensiese deskundiges is gistermiddag uit Port Elizabeth na die misdaadtoneel gestuur om die saak te ondersoek.
Insp. Wena Theron, ’n polisiewoordvoerder, kon gister nie verduidelik waarom ’n span deskundiges van Graaff-Reinet nie self die toneel ondersoek het nie. “ ’n Volledige verklaring oor die voorval sal môreoggend (vanoggend) uitgereik word,” is al wat sy gesê het.
Heunis se familie was gister nog te geskok om iets oor die voorval te sê. ’n Familievriend, wat nie haar naam bekend wou maak nie, het net gesê hulle is uiters geskok en hartseer. “Ons is nog nie presies seker wat gebeur het nie, daarom wil ons liewer nie enige uitlatings maak nie,” het sy gesê.
Mnr. Kritzinger Mey, leier van die VF+ in die Oos-Kaap, het ook gister sy skok uitgespreek oor die “wreedaardige moord”.
Volgens Mey het Heunis se man, mnr. Garth Heunis, gister ’n kursus in Johannesburg bygewoon toe die voorval gebeur het. Hy sou gistermiddag laat na Port Elizabeth gevlieg het, waarna hy met ’n helikopter na Graaff-Reinet geneem sou word.
Mnr. Dave Mugglestone, hoof van die Hoërskool Union, waar Heunis se twee dogters, Monique (12) en Chanzelle (13), skoolgaan, het gister gesê hy het hoendervel gekry toe hy van die voorval gehoor het.
“Ons is heeltemal verslae. Haar dood is nie net ’n verlies vir die twee kinders nie, maar ook vir die hele gemeenskap. Sy was ’n wonderlike vrou.”
Me. Bronwyn Jacobs, ’n inwoner van Graaff-Reinet, het gister gesê Heunis se dood dien weer eens as ’n bewys dat “ ’n mens nooit te versigtig kan wees nie”.
Nog ’n inwoner, me. Christa Hahn, het gister gesê die inwoners is lankal gewaarsku om nie te wandel op die pad waar Heunis aangeval is nie.
Twee mense is verlede jaar ook op dié pad aangeval en amper verkrag, het kapt. Daan Zeelie, hoof van die speurtak op Graaff-Reinet, gesê.
Henry Grootboom is kort ná dié voorval aangekeer en deur die plaaslike landdroshof skuldig bevind op aanklagte van aanranding.
Teen gistermiddag laat was geen begrafnisreëlings beskikbaar nie.
riette.olivier@dieburger.com
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |