|
||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | |||||||
|
|
||||||||
![]()
Mnre. Marius Cloete (agter) en Glen Purdon op hul (tweede) troudag in die Baai. Foto: CHARLES PULLEN
Streek
OOS-KAAP: Toe trou hulle wéér
NORMAN SILKE 03/12/2006 10:28:24 PM - (SA)
PORT ELIZABETH. – Die Oos-Kaap se eerste getroude gay-paar het in die naweek die landdroshof vir ’n kerkie verruil. Mnre. Glen Purdon (35) en Marius Cloete (36) het verlede week geskiedenis gemaak deur een van die eerste Suid-Afrikaanse gay-pare te word wat ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse afhaak. Hulle het maande lank beplan om Saterdag, die dag nadat die wet amptelik van krag geword het, aan mekaar trou te sweer. “Ons moes egter ongelukkig die dag vóór die seremonie in die landdroshof trou, want die vrou wat ons in die huwelik moes bevestig, is nog nie ingevolge die nuwe wet geregistreer nie,” het Marius voor die aanvang van die kerkplegtigheid gesê. Die pasgetroudes was netjies, fors en manlik aangetrek, maar nie hulle óf die 45 gaste – uitgesoekte vriende en familie – het dasse of baadjies gedra nie. Gedurende die seremonie het die twee mans soos stoute skoolseuns, hande gevou, voor eerwaarde Helen Penfold gestaan. “Dit is vir ons almal ’n voorreg om hier saam met julle te wees en mag jul liefde deur die jare groei,” het Penfold die paar toegespreek. “Mag jul denke, harte en siele van nou af een wees.” ’n Groot kers, wat op die kansel gestaan het, is toe aangesteek en elke man het ’n kleiner kers met die groot vlam aan die brand gesteek. “Die groot lig is God en hy gee aan elke mens ’n siel, sy eie liggie wat binne hom skyn,” het Penfold verduidelik. “Julle siele word egter nou een.” Daarna het hulle die twee kersies teen mekaar gehou tot net een, in stede van twee aparte vlamme, sigbaar was. Trane het vrylik gevloei toe die glimlaggende paar geloftes, wat hulle self geskryf het, aan mekaar voorgelees het. Toe, met ’n vinnige “vat jy dié man” en ’n innige soen, is Marius en Glen in die eg verbind, vir die tweede keer binne twee dae. Trane en glimlagte het spoedig in ’n lagbui ontaard toe Marius gesukkel het om die ring aan sy wederhelf se vinger te kry. Maar ná ’n ruk en ’n pluk het hy eindelik die troupant aan Glen se ringvinger gekry, waar dit hopelik nou vir ewig sal bly. Kort daarna het die manne die huweliksregister onderteken en toe ’n klein broodjie in twee gebreek. “Brood is lewe en soos julle die brood breek, het elkeen sy eie lewe,” het Penfold gesê. “Plaas nou die twee stukke weer bymekaar en julle lewens word een.”
|
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |