|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Foto:
Nuus
Uitsaaier maan joernaliste oor Pretoria
01/07/2009 10:02:10 PM - (SA)
Pretoria. - Asseblief, dit is nou Pretoria.
Die SAUK het sy verslaggewers gister in ’n interne e-pos in kennis gestel dit is voortaan streng taboe om na Tshwane te verwys wanneer hulle oor nuus in Pretoria berig.
Dít kom nadat die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) eergister beslis het die SAUK oortree sy uitsaaikode deur in sy TV-nuus na Tshwane te verwys.
Mnr. Fakir Hassen, bestuurder van uitsaainakoming en -beleid by die SAUK, het in die e-pos gesê: “Ons word nou verplig om na Pretoria te verwys tot tyd en wyl die stad se naam wettiglik verander.”
Volgens Hassen het die SAUK nie enige gronde om teen die uitspraak te appelleer nie, “veral in die lig van ons eie inkonsekwente toepassing van Pretoria se naam op radio en televisie”.
Die SAUK verwys na Pretoria in radionuusbulletins, maar na Tshwane in TV-nuus.
Hy het gewaarsku al het die UKKSA die SAUK nie gestraf nie, gaan die uitsaaier sy rieme styfloop as die “voorstelle” (in die uitspraak) nie onmiddellik in werking gestel word nie.
Hassen het tydens verlede maand se verhoor aangevoer Tshwane word in die algemeen as die hoofstad se naam gebruik en dat Pretoria sedertdien “per definisie ’n woonbuurt in Tshwane is”.
Die UKKSA het gesê die Raad vir Suid-Afrikaanse Geografiese Name se databasis het gewys Tshwane is nie as ’n pleknaam geregistreer nie, maar Pretoria wel.
Die kommissie het voorts bevind die minister van kuns en kultuur het nog nooit ’n naamsverandering vir Pretoria goedgekeur nie en dat enige uitsaaier sy kode oortree “deur voor te gee Tshwane is ’n geografiese pleknaam”.
Die verhoor is gehou nadat AfriForum ’n klag hieroor by die UKKSA ingedien het.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |