|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Kerk sê nee vir vroue as leiers
02/07/2009 09:02:33 AM - (SA)
Potchefstroom. - Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) het gister nee gesê vir vroue in die ampte van predikant en ouderling.
Die kerk se algemene sinode het die besluit geneem nadat ’n uitvoerige studie oor alle aspekte van die saak gedoen is en die sinode meer as ’n dag lank daaroor gedebatteer het.
Daar is nie bekend gemaak wat die stemtelling was nie, maar ds. Leo van Schaik, skriba, het gesê daar was ’n beduidende meerderheid vir die besluit.
Dr. Neels Smit, voorsitter, het aan afgevaardigdes gevra om die uitslag te aanvaar as “die uitkoms wat die Here vir ons gegee het”.
Hy het bygevoeg dat daar natuurlik lidmate sal wees wat diep teleurgesteld is, maar gesê mense moet onthou dat dié een kwessie nie die wese van die GKSA is nie.
Nietemin was daar verskillende predikante wat die kommer uitgespreek het dat lidmate wat nie van die besluit hou nie die kerk gaan verlaat.
Prof. Fika van Rensburg, een van die groot kampvegters vir die toelating van vroue tot alle ampte, het gesê hy is baie teleurgesteld. Hy dink dat die GKSA op dié manier gawes ontbeer wat die Here aan die kerk gegee het.
Volgens Van Rensburg meld daar omtrent geen vroue aan vir predikantstudies nie weens die boodskap wat oor jare na hulle toe uitgegaan het dat hulle nie predikante in die GKSA kan word nie. Ander, wat wel teologie studeer, kanaliseer hulself in die rigting van pastorale berading.
Van Rensburg het egter gesê die besluit is ná ’n legitieme proses geneem. Hy moet aanvaar hy is in die minderheid.
Ds. Sarel Cilliers van die gemeente Waterberg (Dolerend) het gesê hy is “innig dankbaar” dat die GKSA ná jare se intense studie ’n besluit geneem het.
Hy weet die besluit sal vir sommige mense in die wêreld vreemd lyk, maar hy het vrede dat hulle daarmee gehoorsaam aan die Bybel is.
Afgevaardigdes uit die swart gemeentes was baie teleurgesteld omdat hulle sukkel met ’n gebrek aan leiers in hul gemeentes.
Ds. Rodney van Wyk van Grassy Park in die Kaap het gesê sy gemeente bloei dood en die daar is nie genoeg mans wat aan die Bybelse vereistes vir ouderlinge voldoen nie. Dit is volgens oudl. Elliot Gxotani van die gemeente iMonti in Oos-Londen ’n algemene probleem in swart gemeentes.
Dr. James Fatuse van die gemeente iBhayi in Port Elizabeth het gesê hulle voel hul probleem is nie deur die sinode gehoor nie.
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |