MARLENE NEETHLING
25/03/2009 08:03:03 AM - (SA)
Kaapstad. – ’n Swart mannetjieskat wat bedwelm deur sy eienaars in hul huis aangetref is, is vermoedelik in ’n daad wat met heksery gekoppel kan word, ’n dwelmmiddel ingegee.
Die kat, Sipho, van Kenilworth, is Vrydagaand deur sy eienaars na ’n dierekliniek gejaag nadat hy vreemd opgetree het.
Volgens mnr. Allan Perrins, hoofbestuurder van die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV), het die kat opiaat ingekry, wat hy vermoedelik ingeasem het of wat by sy keel afgeblaas is. Opiaat is enige middel, soos morfien, heroïen of kodeïen, wat opium bevat of daarvan afkomstig is.
Perrins het gesê hy het nog nooit met ’n geval te doen gekry waar ’n kat opiaat ingekry het nie. Volgens mnr. Andries Venter, hoofinspekteur van die DBV, word vermoed die kat het deur heksery die dwelms ingekry, “veral omdat hy swart is, maar dié moontlikheid word steeds ondersoek”.