|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Tjol hol met die bôl in debat oor Bok-embleem
12/03/2009 11:28:06 PM - (SA)
Kaapstad. - ’n Debat hier by die Woordfees oor die Springbok-embleem was maar effe lusteloos totdat die gesprek oopgegooi is vir die vloer en Tjol Lategan met die bôl gehol het.
Volgens dié 83-jarige oud-Springbok-rugbyspeler voel hy soos ’n “kinds ou omie” wanneer hy met sy Springbok-baadjie by Nuweland opdaag omdat ouer Bokke volgens hom nie meer só ge-suit na dié “rugby-kerk” gaan nie. Hy het hardop gewonder waar Jannie Engelbrecht en Dawie de Villiers se Bok-baadjies dan sou wees.
“Ek het in 1949 vir die eerste keer vir die Springbokke gespeel,” het Lategan gesê by die daaglikse Saampraat-sessie op die Woordfeesprogram wat onder leiding van Freek Robinson aangebied en regstreeks oor RSG uitgesaai word.
Die onderwerp was of ’n embleem soos die Springbok bloot ’n handelsmerk is en of dit groter betekenis sou hê.
“Ek kon al my Springbokbaadjie vir R50 000 verkoop het, maar ek het dit vir my skool gegee. Dit het meer waarde as R50 000,” het hy gesê in ’n mini-betoog wat ’n welkome vaartversnelling gebied het in die gesprek, wat gaan draai het by die finansiële waarde van handelsmerke oor die algemeen, straatname, die volkslied en die meriete al dan nie van een nasionale simbool.
Op die gesprekspaneel is ’n Stellenbosse kultuurfilosoof betrek om onder meer te verduidelik dat daar ’n verskil is tussen “simboliese” en “funksionele” waarde. Langs prof. Paul Cilliers was die man wat tydens die wyd gepubliseerde hofsaak oor ’n T-hemp-grappie oor “Black Labour”-bier voor die hof bewys het dat handelsmerke nie heilige koeie is nie.
Mnr. Justin Nurse het gesê hy plaas nie te veel geloof in simbole nie. “Dit is soos idees. Dit behoort bevraagteken en uitgedaag te word.”
Maar volgens Lategan is dit asof veral oud-Bokke nie die Groen-en-goud hoog genoeg op prys stel nie.
“Die waarde kan jy nie koop nie. Dis vir my hartseer – ek is nou 83 en ek dra nog my Springbok-baadjie Nuweland toe, maar daar’s nie een Springbok wat ’n baadjie wil dra nie.”
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |