|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Sewesrugby dalk in Londen reeds Olimpiese sport – IRR
08/12/2008 08:37:56 PM - (SA)
Kaapstad. - Sewesrugby gaan straks as een van die Olimpiese sportsoorte by die Spele in Londen gesien word.
Só het die toernooidirekteur van die Internasionale Rugbyraad (IRR) se sewesreeks, Beth Coalter, die naweek by die IRR-toernooi in George gesê.
Volgens Coalter werk die voorsitter van die IRR, Bernard Lapasset, tans baie hard sodat sewesrugby as een van die Olimpiese sportsoorte aanvaar kan word.
Die IRR verwag om teen 9 Oktober 2009 reeds ’n antwoord van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) te kry.
“Daar is ’n moontlikheid dat ons dalk reeds in 2012 sal kan deelneem. Die wenners sal egter nie medaljes kry nie, maar sal aan vertoonwedstryde deelneem,” het Coalter gesê.
“As die proeflopie in Londen slaag, is daar ’n sterk moontlikheid dat dit by die Spele van 2016 ’n amptelike sport sal word.
Coalter glo as sportsoorte soos handbal en BMX as Olimpiese sportsoorte aanvaar kan word, kan sy nie sien dat die (IOK) nie ’n plek vir sewesrugby by die Spele kan vind nie.
“Met sewesrugby kry jy twee dae van baie opwindende aksie. By die Spele in Beijing het die groot stadion dikwels leeg gestaan. Toe sewes by die Statebondspele in Melbourne gespeel is, was die stadion vol. Die profiel van sewes sal aansienlik gelig word by ’n Spele. Die deelnemende lande sal boonop die steun van hul regerings ook kry.”
Oor die Wêreldbeker-reeks in Doebai het sy gesê: “Ná die toernooi in Doebai het ons weer gaan kyk hoe ons dinge verder kan verbeter. Benewens die 24 manspanne gaan ons ook 16 vroue-spanne in die WB-toernooi hê.
Intussen was die Springbok-afrigter, Peter De Villiers, vol lof vir die Blitsbokke ná hul uitstekende sege oor Nieu-Seeland in die eindstryd Saterdag in George.
“Paul (Treu, afrigter) se span was ongetwyfeld die beste in die toernooi. Die span se fiksheid, vaardighede, veelsydigheid, deursettingsvermoë en besluitneming was uit die boonste rakke.”
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |