|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Steve Hofmeyr
Nuus
Drama om Steve se Waarmaker-toer en gastehuisverblyf
18/10/2008 12:22:34 AM - (SA)
Kaapstad. - Steve Hofmeyr se Suid-Kaapse Waarmaker-toer is in verdere omstredenheid gedompel nadat sy vertoning in Mosselbaai gekanselleer is 24 uur voordat hy sou optree.
Sy optrede vandeesweek in Hartenbos is ook gekanselleer weens swak kaartjieverkope.
Wat Mosselbaai betref, is die probleem na bewering die organiseerder van die vertoning – me. Lynette Louw – wat nie Steve se optreegeld betyds betaal het nie.
Boonop is klagtes ontvang dat Hofmeyr se rekening by ’n gastehuis in George, waar hy gesing het, ná ’n week nog nie betaal is nie.
Louw, wat ’n bekende inwoner van die George-Mosselbaai-omgewing is, was na bewering ook vir die verblyfrekening van Hofmeyr en agt mense in sy toergroep in die gastehuis Pure Plesier verantwoordelik.
Hofmeyr verkies om in dié gastehuis te bly wanneer hy in die omgewing optree, se mnr. Ian Wesson, bestuurder. “Ek het nog nooit moeilikheid met die betaling van sy rekening gehad nie. Normaalweg betaal Steve se eie mense die rekening, maar hierdie keer is die reëlings met me. Louw getref.
“Ná Steve se vertrek het sy aanhoudend belowe om te kom betaal, maar dit doodeenvoudig nie gedoen nie.” Die bedrag beloop meer as R6 000.
Mense wat kaartjies vir Hofmeyr se optrede in Mosselbaai gekoop het, is glo woedend vir Louw omdat hulle nie hul held kon sien sing nie.
Baie van hulle is na bewering ook nog nie deur Louw vir hul kaartjies vergoed nie.
Louw se selfoon was gisteraand afgeskakel. Haar prokureur, me. Liezel Conradie, het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar te lewer nie.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |