|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
’n Eer, sê Luke in ’06
18/10/2008 12:30:44 AM - (SA)
Johannesburg. - Luke Watson, wat “homself moes keer om nie op sy Springboktrui op te gooi nie”, het twee jaar gelede verkondig dit sal ’n “reuse-eer” wees om vir die Bokke te speel.
’n Onderhoud met Watson wat in September 2006 in Sports Illustrated verskyn het, was gister ’n warm besprekingspunt op dié sporttydskrif se webblad.
Dié omstrede losvoorspeler se destydse kommentaar oor die Bok-embleem is in skrille kontras met wat hy vroeër vandeesmaand as gasspreker by ’n rugbyfees in Kaapstad kwytgeraak het.
Watson het toe sy mond uitgespoel oor die kil ontvangs wat hy gekry het toe hy verlede seisoen danksy politieke inmenging in die Springbokspan ingesluit is vir die toets teen Samoa op Ellispark.
’n Herrie het losgebars nadat sy opgooi-uitlatings in die media op die lappe gekom het.
Volgens ’n transkripsie van Watson se toespraak op 3 Oktober was dit nooit sy begeerte om vir die Springbokke te speel nie.
“Nee, dit was nooit my droom nie, maar ek het dié las met die grootste trots en bevrediging gekies met die wete dat my pa, Cheeky Watson, sy lewe daarvoor opgeoffer het.”
’n Transkripsie van sy Sports Illustrated-onderhoud vertel ’n heel ander storie. Hy het daarin gesê:
“Om vir die Bokke te speel, sal ’n reuse-eer wees. Dit (die Springbok) het die potensiaal om een van die magtigste embleme ter wêreld te word. Dit verteenwoordig gelykheid, eenheid en ’n eens verdeelde nasie wat nou saamstaan.”
“Die Springbok verteenwoordig in ’n demokratiese Suid-Afrika meer as net 15 rugbyspelers. Dit verteenwoordig ’n nasie.”
“Dit verteenwoordig mense met verskillende kulture; voormalige vyande wat versoen het en nou ’n alliansie vorm.”
“Ons het toegelaat dat ons fokus verloor oor waaroor die Springbok werklik gaan. Die Bok het as ’n embleem ontwikkel en is nou moontlik op sy magtigste, maar ons sien dit nie.”
“Ons het die potensiaal om die hele nasie agter die embleem te verenig, maar dit het nog nie gebeur nie weens kleinlikheid en agendas.”
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |