|
|||||||||||
|
| VIND: |
![]() Dr. Essop Pahad, uittredende minister in die presidensie, en mnr. Themba Maseko, hoof-regeringswoordvoerder, op die nuuskonferensie ná die laaste kabinetsitting van die Mbeki-era. Foto: HERMAN VERWEY
Nuus
Motlanthe-era begin
25/09/2008 02:14:31 PM - (SA)
Suid-Afrika betree vandag ’n nuwe tydvak met die verwagte verkiesing van mnr. Kgalema Motlanthe as staatshoof.
Alles dui daarop dat me. Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), as Motlanthe se adjunk aangewys gaan word.
Gisteraand het dit bekend geword dat nóg ministers hul bedanking by die uittredende pres. Thabo Mbeki ingedien het. Daar kon nie bevestig word wie hulle is nie.
Motlanthe se verkiesing en Mbete se aanwysing sal die revolusie, wat aan die gang gesit is met Mbeki se nederlaag op die ANC se nasionale konferensie in Polokwane verlede jaar, voltrek.
Mnr. Jacob Zuma, ANC-leier, is vandag in die Kaap om die Wes-Kaapse provinsiale kongres toe te spreek en sal waarskynlik sy sitplek in die openbare galery van die NV inneem om te sien hoe Motlanthe, wat as sy party-adjunk dien, verkies word. Mbete dien ook onder hom as die ANC se voorsitter.
Die nuwe staatshoof sal deur hoofregter Pius Langa in Tuynhuys beëdig word.
Dit is bekend dat Motlanthe geen huidige kabinetslid wil uitlaat nie, behalwe die vyf wat aangedui het hulle wil nie onder hom dien nie. Kabinetsposte kan egter geskommel word.
Dr. Essop Pahad, uittredende minister in die presidensie, het die ANC se besluit om Mbeki te herroep, gister gekritiseer.
“Ek dink dit is ’n diepgaande foutiewe besluit en voel baie te na gekom. Dit is onder sulke omstandighede vir my onmoontlik om verder as LP en minister te dien.”
Hy het op ’n inligtingsessie in die Uniegebou in Pretoria ná die laaste kabinetsvergadering onder leiding van Mbeki gesê ministers is nie “bitter” oor die beëindiging van die president se (en hul) ampstyd nie, maar van sy kollegas “voel net so gegrief soos ek”.
Mbeki het ’n brief, wat hy aan elkeen geskryf het, aan die kabinet voorgelees waarin hy hulle vir hul toewyding bedank. “Hy het gesê ons kan ons kop omhoog hou omdat ons ons bes gelewer het.”
Ministers en hul adjunkte het ook ’n geleentheid gekry om ’n laaste woord te sê.
“Elke liewe een wat gepraat het, het niks minder nie as hoë lof vir Mbeki gehad,” het Pahad gesê.
Mbeki en dié ministers wat bedank het, se ampstyd het vanoggend om 00:01 geëindig.
Emosionele tonele het hulle na afloop van die kabinetsvergadering afgespeel en dit was ’n bedrukte groep ministers wat die kabinetskamer in die wesvleuel van die gebou verlaat het. Die meeste was sigbaar aangedaan.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |