|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
Spele-websensuur ‘verras’ IOK
01/08/2008 08:51:31 AM - (SA)
Die media moes vóórdat hulle vir die Olimpiese Spele in Beijing opgedaag het, in kennis gestel geword het dat hulle nie totale internetvryheid sal hê nie, het ’n senior amptenaar van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) gister gesê.
Regtegroepe het die IOK en China, die gasheerland, hewig gekritiseer.
Terwyl die herrie oor sensuur voortsleep, het die IOK se pershoof, mnr. Kevin Gosper, gesê hy sowel as die internasionale media is verras dat sommige sensitiewe webwerwe afgesluit is.
“Dis dat ons byna op die nippertjie daarvan gehoor het, dink ek, wat die media destabiliseer en dis beslis vir my ’n verleentheid, want tot 48 uur gelede het ek volgehou dit sal vrye en ongesensorde internettoegang wees.”
Die Beijing-reëlingskomitee se versuim om die media vooraf daarvan in kennis te stel, is nie goed genoeg nie.
“Ons het gemerk dat die woorde wat deur die komitee gebruik word in die afgelope maande verander het van ‘ongesensor’ na iets wat meer soos ‘gerieflik en betyds’ of ‘gerieflik en beskikbaar’ is. Dit is gans ander woorde.
“Tog het niemand in die openbaar verskyn en namens die komitee of die IOK gesê ‘jammer, maar daar is sekere webwerwe wat geblokkeer is’ nie.
“Dis om te moet uitvind en die groot verrassing van ’n aankondiging deur die komitee op ’n perskonferensie te kry. Ek dink hulle kon beter doen.”
Die Beijing-reëlingskomitee is verantwoordelik vir die regstreekse bestuur van die Spele onder beskerming van die IOK, wat onder meer algemene Olimpiese beleid en strategie bepaal. Die reëlingskomitee van ’n Olimpiese byeenkoms sal in die algemeen hand aan hand met die IOK werk.
Die regtewaghond Amnestie Internasionaal (AI), wie se webwerf onder dié is wat in China verbied word, het internetbeperkings by die Spele veroordeel en gesê “dit kompromitteer fundamentele menseregte en verraai die Olimpiese waardes”.
“Dié blatante mediasensuur voeg nog een verbreekte belofte by wat die bewering dat die Spele menseregte in China sal help verbeter, ondermyn,” het mnr. Mark Allison, AI-navorser oor Oos-Asië, in ’n verklaring gesê.
Mnr. Sun Weide, woordvoerder van die reëlingskomitee, het gesê sensuur sal nie joernaliste verhinder om oor die Spele verslag te doen nie, maar hy het erken daar sal geen toegang tot sekere webwerwe wees nie.
Die komitee het joernaliste op inligtingsessies voor die Spele pal verseker dat hulle normale toegang tot die internet sal hê. – Reuters
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |