|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
Sport was Mandela-strategie vir versoening – boek
06/07/2008 11:01:21 PM - (SA)
Oudpres. Nelson Mandela vertel in ’n nuwe boek, deur die Brit John Carlin, dat hy reeds in die tronk besef het sport kan gebruik word om wit en swart Suid-Afrikaners te verenig.
Mandela beskryf hoe hy die Rugbywêreldbekertoernooi in 1995 as instrument in sy strategie gebruik het.
Die boek, Playing the Enemy: Nelson Mandela and the Game that Made a Nation, word op 1 September uitgereik.
Carlin meen Mandela se “rugby-diplomasie” was belangrik om die vrede te bewaar in daardie eerste jare van demokrasie.
“Vir swartes was rugby ’n gehate simbool van apartheid. Vir Afrikaners, soos Mandela dit gestel het, was dit ’n godsdiens.
“Sy werk was om die vader van die hele nasie te word. Hy het aan homself die taak gestel om die land te oortuig dat hulle rondom die nasionale rugbyspan moet verenig – iets wat hy met groot sukses behaal het met die Wêreldbeker-eindstryd toe klompe Afrikaner-ondersteuners die Xhosa-woorde van die nuwe volkslied gesing het . . . ” skryf Carlin.
Benewens met Mandela het Carlin onderhoude gevoer met ander rolspelers in rugby – soos die destydse Springbok-kaptein, Francois Pienaar – en Afrikaner-politici soos genl. Constand Viljoen. “In sy 27 jaar agter tralies het Mandela sy vyand, die Afrikaners, goed leer ken, asook hoe belangrik rugby vir hulle was.”
Mandela het ook die eienskappe van die Afrikaner wat hom beïndruk, teenoor Carlin beskryf. Hy het gesê hy ervaar Afrikaners as mense wat reguit praat.
“As ’n Afrikaner nie van jou hou nie, sal hy sê: ‘Gaan k—k.’ Maar as hy van jou hou, stem hy met jou saam. Hulle het die vermoë om te hou by wat hulle onderneem het.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |