|
|||||||||||
|
| VIND: |
Nuus
ANC ‘gryp nie stadions’
21/11/2008 08:32:46 AM - (SA)
Kaapstad. - Die ANC-LP’s mnre. Butana Komphela en Cedric Frolick se verklaarde planne om rugbystadions by unies “weg te vat” is “nié ANC-beleid nie”.
Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) oorweeg dit intussen om met die ANC se parlementêre leierskorps oor hul uitsprake te praat en die VF+ het gister ’n klag by die speaker van die parlement, me. Gwen Mahlangu-Nkabinde, ingedien.
Mnr. Khotso Khumalo, ANC-LP en politieke hoof in die parlement, het gesê die regering kan stadions nie summier onteien nie.
“Dis nie ons partybeleid om stadions by enige sport weg te vat nie. Boonop het groot borge soos Absa en FNB belange by baie stadions. Nee, ons sal dit nie doen nie.”
Die party se nasionale leierskorps het by monde van ’n woordvoerder, mnr. Brian Sokutu, met Khumalo saamgestem: “Ons sal nie só iets steun nie. Kwessies oor watter sportsoorte watter stadions gebruik, moet tussen sportmense uitgeklaar word. Dit is nie ons beleid (om stadions af te vat) nie.”
Dit is die derde keer dat Komphela deur sy eie party oor sy opspraakwekkende dreigemente gerepudieer word.
Hy het eergister op ’n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor sport gesê: “Ons is op pad om alle stadions van rugby weg te neem . . . niks gaan ons keer nie”, terwyl Frolick rugby rassisties en ’n “misdadigersport” genoem het.
Mnr. Willie Spies, VF+-LP, het aan die Nasionale Vergadering (NV) gesê Komphela en Frolick “misbruik parlementêre privilegie”. Onlangse uitsprake dui daarop, soos dat ’n rugby-amptenaar “nie omgee wanneer swart mense sterf nie”, dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) vol “wittes en Indiërs” is en ’n LP wat van “boeremaniere” beskuldig word.
AfriForum het op sy beurt ’n brief aan mnr. Jacob Zuma, ANC-leier, gestuur waarin gevra word dat die party Komphela en Frolick “tot orde roep” omdat hulle “vergelding eerder as versoening” najaag.
Die kantoor van mnr. Makhenkesi Stofile, minister van sport en ontspanning, kan intussen steeds nie die regering se besitreg oor die Springbok-embleem bewys nie.
Stofile het Dinsdag gesê die embleem is deur die regering by die relevante owerhede geregistreer. Hy het Saru beveel om die embleem na die regterkant van die trui te verskuif om vir die Protea plek te maak. Dit is ook só aan die nasionale sokkerbeheerliggaam, Safa, voorgeskryf. Mnr. Raymond Hack, Safa-bestuurshoof, het bevestig Bafana Bafana sal van volgende jaar met die Protea op die linkerbors uitdraf.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |