|
|||||||||||
|
Een van die webwerwe waarop bespiegel is oor die identiteit van die “oom”.
Nuus
Jurie Els kry interdik oor die ‘oom’
15/02/2008 07:45:31 AM - (SA)
KAAPSTAD. – Die sanger Jurie Els was gisteraand suksesvol in ’n dringende interdik teen Media24 oor ’n beplande artikel wat vandeesweek in Huisgenoot en YOU gaan verskyn. In die artikel maak die popster Robbie Klay sy hart oop en identifiseer hy die “oom” wat hom na bewering jare lank seksueel gemolesteer het.
Waarnemende regter R.T. Sutherland het in die Witwatersrandse provinsiale afdeling van die hooggeregshof ’n tussentydse interdik toegestaan dat Media24 (Edms.) Bpk. en Izelle Venter, Gautengse redakteur van Huisgenoot, nie die artikel mag publiseer nie.
Die respondent in die dringende aansoek word genoem as mnr. Christiaan Jurie Els. Die aansoek is nie met geslote deure aangehoor nie en geen bevel is gemaak dat Els nie geïdentifiseer mag word nie.
Regter Sutherland het Els verlof gegee om binne tien hofdae ’n aansoek in te dien vir ’n finale interdik. Daarna het Media24 tien hofdae om op die aansoek te antwoord.
Die kostebesluit van die aansoek staan oor totdat die finale aansoek bereg is.
Die interdik is gisteraand vroeg deur regter Sutherland by sy huis aangehoor. Hy het argumente per telefoon aangehoor.
Huisgenoot en You se redakteur, Esmaré Weideman, het gisteraand gesê ná deeglike oorweging is besluit om voort te gaan met die publikasie van die artikel, maar om nie die sanger se identiteit te openbaar nie.
“Ons is verbaas deur die interdik, aangesien die appèlhof onlangs bepaal het die media se mond kan nie deur middel van ’n interdik gesnoer word nie, omdat die opsie bestaan om ná publikasie ’n lastereis in te dien. Nog meer verbasend is dat die interdik toegestaan is in die Witwatersrandse provinsiale afdeling van die hooggeregshof, aangesien Media24 se hoofkantoor in die Kaapse provinsiale afdeling van die hooggeregshof is.
“In die lig daarvan dat minstens twee ander persone ná publikasie van mediaberigte na vore gekom het om dieselfde sanger van seksuele molestering te beskuldig, ag Huisgenoot dit in openbare belang dat ons voortgaan met die publikasie van die artikel.’’
Terwyl ’n beweerde vroetel-ooggetuie weier om die identiteit van die “oom” wat Klay glo as seun betas het bekend te maak, is die jurie oënskynlik reeds uit in die kuberruim.
Op die sosiale netwerk-webblad Facebook is ’n groep op die been gebring wat prontuit vinger wys na ’n bekende in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidswêreld wat op dié forum selfs “die Michael Jackson van Suid-Afrika” gedoop is.
Op ’n skinderblad genaamd bosparra. com word ’n satiriese huldeblyk aan dié “oom” gedoen. Hier pryk sy foto langs sy naam.
Hoewel die meeste van die kuber-opiniesaaiers agter anonimiteit skuil, skaats hulle tog op dun ys, volgens mnr. Lance Michalson, ’n inligtingstegnologie-prokureur van Kaapstad.
“Karakterskendingwette is dieselfde op die internet as wat dit in gedrukte media is,” het Michalson gesê. Hy het bygevoeg dat daar wel unieke uitdagings bestaan om ’n kuberlasteraar te dagvaar en dat daar nog nie ’n Facebook-lastersaak op eie bodem was nie.
Volgens Michalson het ’n uitspraak in ’n 2004-saak oor laster in ’n kuberkletskamer uitgestip dat laster plaasvind waar dit afgelaai of gelees word. Jurisdiksie oor moontlike karakterskending-eise sal dus bepaal word deur waar in die wêreld die verontregte se rekenaar staan.
Die “oom” se selfoon het gisteraand slegs laat hoor: “The subscriber you have dialed is not available at present.”
Die Burger het vroeër berig Klay was tien jaar oud toe die seksdade begin het, wat “orale seks, masturbasie tot drie keer per dag, pornografie en naakvideo’s” van hom (Klay) ingesluit het. Klay verwys na die man as “die oom”.
Media24 is deur mnr. Johan Theron van die firma Jan S. de Villiers verteenwoordig.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |