|
|||||||||||
|
Nuus
Afrikaners is dom en rassisties, sê Engelse studente van Rhodes
22/05/2008 01:23:45 PM - (SA)
GRAHAMSTAD. – Afrikaans is ’n dooie taal wat deur ’n klomp rassistiese en “stupid Dutchmen” gepraat word.
Dít is glo van die aanmerkings wat Engelse studente aan die Rhodes-universiteit hier gereeld die minderheid Afrikaanse studente op die kampus toesnou.
Afrikaanssprekende studente met wie Die Burger gepraat het, het uit een mond van dié diskriminerende aanmerkings vertel.
Me. Anna van Wynegaard het gesê sy het vroeër vanjaar ’n uitnodiging van die Golden Key-vereniging (vir studente wat akademies presteer) ontvang. ’n Engelse meisie het haar glo gevra hoe dit moontlik is dat Afrikaanse studente ook toegang tot dié vereniging kan verkry, “omdat Afrikaners dan dom is”. Volgens haar het studente selfs buite die Afrikaans-departement by Rhodes die aanmerking gemaak dat Afrikaans ’n dooie taal is.
Me. Thandi Welman meen diskriminasie teen Afrikaanse studente gebeur so baie dat daar nie eens meer besef word dit is diskriminasie nie.
“My naam is dan Zoeloe; hoe kan daar gedink word my ouers was rassistiese mense? Engelse studente moet besef ons (Afrikaners) is nie meer deel van apartheid nie,” het Welman gesê.
“Ons is al so gewoond daaraan om dit weg te steek dat ons Afrikaans is, anders loop ons die gevaar om gebrandmerk te word,” meen mnr. Jako Bezuidenhout.
Mnr. David de Bruyn stem saam. “Ek sal nie vir almal sê ek is Afrikaans nie, anders word ek uitgesluit. Die persepsie is dat ons dom en rassisties is.”
Hy het bygevoeg die meeste studente beskou selfs die Afrikaanse skool op die dorp, die Hoërskool P.J. Olivier, se seuns as “dom leerders wat net wil baklei”.
“Hulle kla ook hulle gaan dop as ’n Afrikaanse dosent klasgee.”
’n Student wat anoniem wil bly omdat sy bang is sy word vervolg, het gesê “die universiteit laat ons onwelkom voel”.
“In my eerste jaar is daar reeds na ons verwys as ‘foreigners’ en ons is geterg oor die manier waarop ons praat.”
Bezuidenhout het verduidelik studente het nie die vrymoedigheid om te praat nie, aangesien daar net nog meer teen hulle gediskrimineer gaan word.
Dr. Saleem Badat, visekanselier van die universiteit, het gister gesê diskriminasie teen Afrikaanse studente is vir hom “nuwe inligting”.
Badat het gesê as slegs een student onregverdig behandel word, is dit rede tot kommer.
“Wanneer so iets gebeur, ondermyn dit die waardes van die universiteit.”
Volgens hom staan sy deur oop vir enige studente wat voel daar word teen hulle gediskrimineer.
Deeglike stappe sal gedoen word indien só ’n klagte onder sy aandag kom, het hy gesê.
Ten spyte van die beweerde diskriminasie op die kampus word petisielyste wat die voorvalle van xenofobie in onder meer Alexandra veroordeel môre op die kampus versprei.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |