|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
Pandor wil eed hê wat almal pas
15/05/2008 09:42:25 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Die minister van onderwys, mev. Naledi Pandor, wil nuwe lewe in tegniese skole blaas.
Pandor het dié aankondiging gister in haar begrotingsrede gedoen.
Haar nasionale begroting, waarvan die oorgrote gedeelte (R15,1 miljard van die R18,5 miljard) op die een of ander manier aan tersiêre opvoeding bewillig is, is gister eenparig deur die parlement aanvaar.
Sy het in haar begrotingsrede haar kommer uitgespreek oor die “skerp afname in (leerder-)getalle ná gr. 9 en gr. 10”.
“Een van die maniere om die probleem aan te pak . . . is om ’n proses van hernuwing, uitbreiding en modernisering van tegniese skole in Suid-Afrika te begin.
“Daar is meer as 100 van dié instellings en ek is van mening dat ’n belegging in hulle sal lei tot ’n toename, van deurslaggewende belang, in die tegniese vaardighede wat die land benodig.”
Pandor het die bal aan die rol gesit vir ’n hersiening van dié skole van waar verdere ontwikkeling kan plaasvind.
Verder het sy melding gemaak van haar plan om inspekteurs weer deel van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel te maak. “Vanjaar beplan ons om met ’n klein groepie inspekteurs te begin en om wetgewing te skryf vir die skepping van ’n agentskap of instituut, wie se mandaat die ontwikkeling van evaluering van onderwysers sal wees.”
Met betrekking tot die opleiding van onderwysers, het sy melding gemaak van ’n veldtog waarmee beoog word om jongmense te werf om veral leerders in gr. 1 tot gr. 3 te leer. “Ons sal fokus op studente wat gretig en bevoeg is daarvoor om in die verskeie Afrika-tale onderrig te gee.”
Pandor het ook uiting gegee aan haar wens om teen 2013 ontslae te raak van ongekwalifiseerde onderwysers. “Daar word tans inligting ingesamel oor die getal ongekwalifiseerde en ondergekwalifiseerde onderwysers in die onderwysstelsel. Die bevindings hiervan sal die grondslag vorm van ’n vyfjaarplan vir die opgradering van onderwysers se vaardighede, wat teen 2009 ingestel sal word.
Laastens het sy die skole-eed genoem. Gister was die laaste dag vir voorleggings van die publiek oor die eed.
Volgens Pandor is die getal voorleggings oor die eed waarskynlik die meeste wat haar departement al ooit oor ’n kwessie gekry het. “Ek wil graag die publiek bedank vir hul entoesiastiese deelname aan dié debat. Ek hoop om later vanjaar terug te kom na die parlement met ’n bewoording wat almal gaan pas.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |