|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Só lyk Huis Cummings ná die brand Dinsdag. Foto: LIZANE LOUW
Nuus
Studente ‘kan nie leer’ ná brand
16/05/2008 08:30:37 AM - (SA)
STELLENBOSCH. – Die skok oor ’n verwoestende brand in Wellington tref studente nou eers.
Só het me. Riana Engelbrecht, koshuismoeder van Huis Cummings in Wellington, wat Dinsdagoggend vroeg deur vlamme verswelg is, gister gesê.
“Dit is vir hulle baie traumaties. Baie van hulle is nog tranerig en verslae.”
Huis Cummings, ’n geskiedkundige klipgebou wat in 1898 as koshuis ingewy is, is omstreeks 00:30 in puin gelê na wat vermoed word ’n elektriese kortsluiting was.
Die meeste van die studente aan Hugenote Kollege kon net met die klere aan hul lyf uit die brandende gebou ontsnap.
Die oorsaak van die brand kan steeds nie bevestig word nie.
Mnr. Dereck Peceur, assistent-brandweerhoof van die Drakenstein-munisipaliteit, het gesê die gure weersomstandighede belemmer die ondersoek.
“Die struktuur is baie onveilig. Niemand kan nou daar binne beweeg nie. Die reën belemmer die ondersoekproses nog verder.”
Hulle het wél met die studente gepraat, het Peceur gesê. Uit dié gesprekke blyk die sondaar glo ’n staafverwarmer te wees. Dít kan egter nie bevestig word nie, het hy bygevoeg.
Die studente sou Woensdag met eksamen begin het, maar dit is tot eerskomende Maandag uitgestel.
Die kollege het berading aan al die studente voorsien. Verwoeste handboeke is ook op die kollege se onkoste vervang.
Hoewel daar tóg ’n paar studente is wat kans sien om die eksamen aan te pak, sal diegene wat té erg getraumatiseer is, die eksamen volgende kwartaal kan aflê indien hulle ’n mediese sertifikaat verskaf.
Volgens Engelbrecht sukkel talle van die studente om te leer.
“Hulle kom sê vir my: ‘Tannie, ek kan niks onthou nie’ en ‘ek kan nie leer nie’.”
Die meeste van die studente bly sedert Dinsdagaand in koshuise in die dorp en op die kampus, asook in gastehuise.
Die studente is uitgeplaas volgens jaargroepe en studierigtings sodat hulle, so ver as moontlik, bymekaar kan bly.
Prof. Johan Viljoen, die rektor van Hugenote Kollege, het gesê die kollege se bestuur werk aan ’n plan om die studente vir die res van die jaar asook op lang termyn te huisves.
Die omvang van die skade is steeds onbekend.
“Ons kan net bepaal wat die vervangingskoste is, maar nie wat die werklike verlies is nie.
“Die meeste van die geskiedkundige artikels wat in die brand verlore is, kan nooit vervang word nie.”
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |