|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
MK-veterane wil misdaad in Gauteng bekamp
12/05/2008 01:43:09 PM - (SA)
Oud-vegters uit die bevrydingstryd se kennis sal binnekort gebruik word om misdaad in Gauteng te bekamp.
Mnr. Paul Mashatile, die provinsie se ANC-leier en LUR vir finansies, het die naweek ’n beroep op MK-veterane gedoen om by hul plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) betrokke te raak.
Mnr. Kebby Maphatsoe, nasionale voorsitter van MK se veterane-vereniging (MKVA), het bevestig die MKVA in Gauteng het ’n besluit geneem om MK-veterane in soveel moontlik GPF’s in die provinsie te ontplooi.
Die besluit is Saterdag tydens die MKVA in Gauteng se vierde provinsiale konferensie in Booysens, Johannesburg, geneem.
“MK-veterane is gedissiplineerd en het vaardighede tydens die bevrydingstryd geleer wat nou in GPF’s gebruik kan word,” het Mashatile gesê.
GPF’s is die sleutelmeganismes in die provinsie se Take Charge-veldtog om misdaad te bekamp.
Dit betrek lede van die gemeenskap en die polisie wat op ’n gereelde grondslag vergader om misdaadkwessies beter te bespreek.
“Die veldtog het reeds baie vermag om misdaad te verminder en ek glo die hulp van MK-veterane sal nog meer help,” het Mashatile gesê.
Intussen het Maphatsoe die toenemende geweld in Zimbabwe ná daardie land se verkiesing veroordeel.
“Dit is veral vir ons kommerwekkend dat oorlogsveterane by so iets betrokke is. Die MKVA is ten sterkste teen sulke geweld gekant,” het hy gesê. – Cobus Coetzee
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |