|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Supt. Piet Viljoen
Nuus
Viljoen wás deel van Desai-ondersoek – Zille
11/05/2008 09:49:01 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Me. Helen Zille, Kaapstad se burgemeester, hou vol supt. Piet Viljoen, hoofondersoekbeampte in die stad se spioenasieskandaal, was wél by die Desai-kommissie betrokke.
Zille het gisteroggend gereageer op koerantberigte van Vrydag waarin Viljoen ontken hy het enigsins ondersoeke vir die destydse Desai-kommissie gedoen.
Zille het Woensdag die bewerings gemaak en gesê Viljoen het voor ’n onderhoud met haar by die Bellville-polisiekantoor gesê sy ondersoek tydens die Desai-kommissie het ’n groot verleentheid vir die DA veroorsaak.
Zille het afskrifte van Sapa-berigte en uittreksels uit ’n dokument per e-pos aan Die Burger gestuur. Luidens die berigte van 7 Junie 2002 het Viljoen – toe nog ’n kaptein – dokumente wat verband hou met die bedrogsaak teen Jürgen Harksen aan die Desai-kommissie oorhandig.
Viljoen was destyds die ondersoekbeampte in die bedrogsaak teen Harksen.
Die Desai-kommissie het in 2002 die beweerde korrupte verhouding tussen mnr. Gerald Morkel, gewese DA-leier in die provinsie, die DA en Harksen ondersoek.
Supt. André Traut, ’n polisiewoordvoerder, het gister voet by stuk gehou dat Viljoen nooit amptelik by die Desai-kommissie betrokke was nie.
Hy het gesê Viljoen het Harksen wél in 2002 na ’n sitting van die kommissie vergesel en die kommissie van dokumente voorsien waarop hulle in die ondersoek na Harksen se misdrywe beslag gelê het. Hy was egter glad nie verantwoordelik vir enige ondersoek in die Desai-kommissie nie.
Traut het gesê Viljoen se rol in die Desai-kommissie was presies soos sy rol in die Erasmus-kommissie. Wanneer hy om inligting gevra of gedagvaar word, moet hy die inligting beskikbaar stel.
Zille het gister gesê sy én haar regsverteenwoordiger, me. Fiona Stewart, gaan beëdigde verklarings oor Viljoen se uitlatings aflê.
Stewart was glo teenwoordig toe Viljoen die opmerking oor die Desai-kommissie kwytgeraak het. “Ons sal bewyse van sy betrokkenheid by die Desai-kommissie byvoeg.”
Zille het verder gesê die polisie is nie onpartydig soos dit in ’n demokrasie hoort nie. Sy het gesê as daar nie teen die partydige optrede van die polisie uitgepraat word nie, kan Suid-Afrika in dieselfde posisie as Zimbabwe beland.
“Die polisie en die weermag daar is Zanu-PF. Hulle sal nie nou toelaat dat Mugabe as president afstaan nie, omdat die polisie en die weermag nou bang is vir wat ’n nuwe regering kan doen.”
Sy het gesê as hulle onpartydig was, sou hulle hul werk gedoen en nie kant gekies het nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |