|
|||||||||||
|
Nuus
Eskom boos vir klikkers
11/05/2008 09:48:13 PM - (SA)
JOHANNESBURG. – Fluitjieblasers wat by Eskom werk en met ANC-leiers oor “bestuursprobleme” by Eskom gepraat het, word daarvan beskuldig dat hulle die probleme “buite konteks oorgedra het”.
“Vir my is die probleem dat die fluitjieblasers na buite gegaan het,” het mnr. Fani Zulu, nou weer Eskom se woordvoerder, gistermiddag gesê.
“As Eskom se interne kommunikasie beter was, sou hulle nie na buite gegaan het nie, want hulle sou die antwoorde binne die organisasie gekry het,” het hy gesê.
Die Sunday Times het gister berig die ANC het ’n verslag oor Eskom opgestel, maar dit nog nie formeel op ’n partyvergadering voorgelê nie. Mnr. Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het egter gister ontken dat die ANC só ’n ondersoek gedoen het, berig Cobus Coetzee.
Volgens Zulu het hy die eerste keer van só ’n verslag gehoor toe dié Sondagkoerant hom vir kommentaar genader het.
Luidens die Sunday Times oorweeg die ANC nou regsadvies nadat hulle sekere inligting deur Eskom-fluitjieblasers bekom het.
Een van die ANC-verslag se bevindings is glo dat krag wat van die Cahora Bassa-hidroëlektriese-skema in Mosambiek gekry is, na Zimbabwe herlei is.
Zulu sê dié bewering moet in konteks gesien word.
Volgens hom is ’n gedeelte van die krag deur Zimbabwe en Botswana na Suid-Afrika herlei omdat dit weens ’n netwerkprobleem nie regstreeks na Suid-Afrika herlei kon word nie.
“Die vraag moet gevra word: Waar is hierdie krag gebruik? Die krag is nie in Zimbabwe gebruik nie, maar in Suid-Afrika.”
Luidens die verslag het Eskom glo ’n stelsel van infrastruktuuronderhoud ontwikkel wat sy bestuur aangemoedig het om bonusse te verdien deur minder te spandeer aan die verouderende infrastruktuur.
Die verslag het ook glo bevind besparings wat op die onderhoudsbegroting gemaak is, is in die private sektor belê.
Dít het Eskom se winste opgestoot en bestuurders kon gevolglik op groot bonusse aanspraak maak.
In antwoord op dié aantygings het Zulu gesê “die fluitjieblasers moet meer besonderhede gee”.
Verder lui die verslag glo dat die kontrakteurs wat vir Eskom onderhoudswerk moes doen, nie kon bybly nie en dat belangrike herstelwerk nie gedoen is nie.
|
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |