|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
Nuus
Afrika-vlugte minder veilig – ILVV
11/05/2008 09:31:06 PM - (SA)
JOHANNESBURG. – Dit is ses keer gevaarliker om in Afrika te vlieg as in die res van die wêreld.
Volgens die Internasionale Lugvervoervereniging (ILVV) se jaarlikse veiligheidsverslag is ’n gemiddeld van 4,09 vliegtuie per miljoen vlugte verlede jaar in dié kontinent se lugruim afgeskryf.
Die internasionale gemiddeld is 0,75 vliegtuie vir elke miljoen vlugte. Dié syfers is net van toepassing op Westers-vervaardigde kommersiële straalvliegtuie.
Die wêreldwye sterftesyfer in vliegtuigongelukke het met 19% afgeneem van 855 tot 692, ten spyte daarvan dat die hoeveelheid passasiers met 6% toegeneem het tot 2,2 miljard passasiers in 2007.
Daar was altesame 100 vliegtuigongelukke (57 met stralers en 43 met skroefvliegtuie) in 2007, in vergelyking met 77 ongelukke in 2006 (46 met stralers en 31 met skroefvliegtuie).
“Lugvervoer is die veiligste vorm van vervoer. In die tien jaar sedert 1998 het die ongeluksyfer met amper die helfte verminder – van 1,34 ongelukke per miljoen vlugte tot 0,75. En die aantal sterftes het aansienlik afgeneem in 2007,” het mnr. Giovanni Bisignani, die ILVV se direkteur-generaal en uitvoerende hoof, in ’n verklaring gesê.
Altesame 48% van die vliegtuigongelukke het tydens landing plaasgevind. ’n Verdere 20% het op die grond plaasgevind. ’n Voorbeeld daarvan is waar grondhanteringsmaatskappye se voertuie teen vliegtuie bots. Byna die helfte van die ongelukke kon met tegniese kwessies verbind word, terwyl instandhoudingsfoute met sowat 20% van alle voorvalle verband hou.
Mnr. Linden Birns, woordvoerder van die ILVV in Suid-Afrika, het gesê dit is oor die algemeen veiliger om in Suid-Afrika te vlieg as in ander Afrika-lande. Dít is omdat hier meer geld aan lugvaartveiligheids-infrastruktuur bestee word.
Die ILVV verteenwoordig sowat 240 lugdienste, wat 94% van geskeduleerde internasionale lugverkeer insluit.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |