|
|||||||||
|
|
Stuur enige kommentaar, stories, foto's of wenke aan web@dieburger.com | ||||||||
![]() Mnr. J. Arthur Brown Foto: FRANCOIS NEL
Nuus
Fidentia-grootbaas: Brown se borgtog dalk ingetrek
11/05/2008 09:34:52 PM - (SA)
KAAPSTAD. – Die staat gaan vandag in die Kaapse landdroshof begin met ’n aansoek om mnr. J. Arthur Brown, Fidentia se grootbaas en ’n vermeende swendelaar, se borgtog in te trek.
Brown, wat tans op borgtog van R1 miljoen vrygelaat is, is Vrydag op afsonderlike klagtes van bedrog, diefstal en geldwassery in hegtenis geneem. Hy verskyn vandag ook in die Kaapse landdroshof op dié aanklagte.
Hy en Graham Maddock, ’n voormalige Fidentia-direkteur, word daarvan beskuldig dat hulle miljoene rande van beleggers vir eie gewin verduister het. Maddock dien, ingevolge ’n ooreenkoms met die staat, tronkstraf van sewe jaar uit.
Dié aansoek teen Brown kom nadat sy vrou, mev. Susan Brown, en hul twee kinders verlede week landuit gevlug het. Hulle bevind hulle glo in Australië.
Mnr. Dines Gihwala, een van die kurators wat die geld wat Brown en sy medebeskuldigdes glo verduister het, moet terugkry, sê Brown word nou as ’n vlugrisiko beskou.
Adv. Thersia du Toit het gister bevestig die staat gaan ’n aansoek bring om Brown se borgtog ingetrek te kry. Sy het gesê die verwagting is dan ook dat Brown ’n nuwe aansoek om borgtog sal indien.
Gihwala het aan Die Burger gesê die feit dat Susan Brown uit die land gevlug het, behoort nie probleme in die strafregtelike prosesse teen haar man te skep nie.
Hy het beaam dat daar ’n lasbrief vir mev. Brown se inhegtenisneming is, maar wou nie uitwei oor hoekom sy nie gearresteer is nie. “Praat maar liewers met die nasionale vervolgingsgesag daaroor,” het hy gesê.
Adv. Bruce Morrison van die nasionale vervolgingsgesag het aan Die Burger gesê die staat gaan nie die saak teen Brown en sy medebeskuldigdes vooruitloop nie. Hy het gesê al die aspekte rondom Brown en sy vrou se lasbrief gaan in die hof geopper word en dat hy glad nie wil inbreuk maak op vandag se hofverrigtinge nie.
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
| Kontak
ons | Navrae
| Teken in
op ons nuusbrief | Vrae
oor registrasie | Adverteer
| gebruikersooreenkoms
| |